Central SA
Vrou van Prieska in hof vir dwelmhandel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:33 Fri, 01 May 2026
’n Vrou van die Noord-Kaap sal na verwagting Maandag (4/5) in die landdroshof op Prieska verskyn nadat sy met dwelms ter waarde van duisende rand betrap is.
Die beskuldigde is Woensdag (29/4) op Prieska aangekeer. “Die polisie het ’n lasbrief vir deursoeking verkry voordat hulle na die perseel gegaan het,” sê lt. kol. Thabo Litabe, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Hulle het verskeie dwelms, insluitend mandrax-tablette en tik, met ’n geraamde straatwaarde van meer as R20 000 gevind.”
Genl. maj. Nomana Mtukushe, distrikskommissaris van die Pixley ka Seme-distrik, verwelkom die inhegtenisneming en loof die polisie vir hul toewyding en vinnige optrede.
Nog aangekeer
Mtukushe waarsku diegene wat betrokke is by dwelmverwante aktiwiteite die polisie sal voortgaan met operasies om te verseker hulle word vervolg.
In ’n ander geval van onwettige bedrywighede wat by ’n huis ontdek is, sal twee Zimbabwiese burgers na verwagting binnekort in die hof verskyn nadat hulle in Kimberley in hegtenis geneem is.
Die verdagtes, ’n man (53) en ’n vrou (44), is op 11 Oktober in Galeshewe aangekeer ná ’n intelligensie-gedrewe operasie, sê lt.kol. Tebogo Thebe, Valkewoordvoerder.
“Beamptes het op die perseel toegeslaan waar hulle ’n groot hoeveelheid ongeregistreerde medisyne, insluitend strope en tablette wat sonder magtiging verkoop is, gevind het.”
Tydens die operasie het hulle ook in ’n vertrek afgekom op dagga in plastieksakke met ’n geraamde straatwaarde van sowat R90 000. Die polisie het beslag gelê op verskeie items en die totale waarde beloop meer as R150 000.
Volgens Thebe het die beskuldigdes na bewering sonder die nodige kwalifikasies medikasie versprei wat strydig is met die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe. ’n Hofbevel is bekom om die bates wat met die onwettige bedrywighede verbind word aan die staat verbeurd te verklaar.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

