Central SA
Vrou van Upington gevonnis ná moord op lewensmaat─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:50 Sun, 03 May 2026
Die polisie hoop die vonnisoplegging van ’n vrou wat haar lewensmaat vermoor het, bewys gesinsgeweld bly ’n prioriteit.
Marisha Olyn (30) van Rosedale, Upington, is skuldig bevind aan die moord op Nicozane Swartz. Sy is tot 18 jaar tronkstraf gevonnis.
Die voorval het op 18 Januarie 2025 plaasgevind toe die paartjie in ’n argument betrokke geraak het, sê kol. Cherelle Ehlers, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Tydens die woordewisseling het Olyn Swartz in die bors gesteek. Hy is hospitaal toe geneem, maar het later dieselfde dag aan sy beserings beswyk.”
Die ondersoek het gelei tot Olyn se inhegtenisneming en uiteindelike skuldigbevinding. Sy is in die streekhof op Upington gevonnis. Speursers. J.A. Visagie was die ondersoekbeampte.
“Gesinsgeweld bly ’n prioriteit en die polisie sal kragtig werk om te verseker dat sake deeglik ondersoek word en oortreders vervolg word,” sê genl. maj. Monica Sebili.
Kimberley
Intussen is Tshepo Lovemore Morole Dinsdag (27/4), byna drie jaar ná die voorval, in die Kimberley-streekhof gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan verkragting. Hy is ook ongeskik verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Die slagoffer (20) is Vrydag 3 November 2023 omstreeks 04:00 deur drie mans agtervolg terwyl sy huis toe gestap het. “Hulle het haar later ingehaal en een van die mans het haar met ’n hamer oor die kop geslaan. Sy het daarna haar bewussyn verloor, het lt.kol. Thabo Litabe, provinsiale polisiewoordvoerder, vroeër gesê.
Die slagoffer kon niks van die voorval onthou nie, maar toe sy haar bewussyn herwin, het sy haarself in ’n onbekende erf bevind, gedeeltelik ontklee, langs ’n onbekende man wat ’n hamer vashou.”
Volgens Litabe het die man besef dat sy bygekom het en die hamer eenkant gegooi en voorgegee om haar te help. “Die slagoffer het egter daarin geslaag om hom weg te stoot en na ’n nabygeleë huis te vlug. Die verdagte het haar agternagesit.”
’n Saak is by die Kimberley-polisiekantoor aanhangig gemaak. Danksy deeglike ondersoekwerk en die slagoffer se gedetailleerde beskrywing is die verdagte deur sers. Moreetsimang Mogakwe geïdentifiseer en in hegtenis geneem.
DNS-bewyse het Morole later met die misdaad verbind, wat uiteindelik tot sy skuldigbevinding gelei het.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

