On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Nuwe wêreldrekord vir dierewelsyn by Bloemskou opgestel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:41 Wed, 06 May 2026

Nuwe wêreldrekord vir dierewelsyn by Bloemskou opgestel | News Article
Byna 70 000 kg troeteldierkos is ingesamel. Foto verskaf

’n Nuwe wêreldwye maatstaf vir liefdadigheid in die troeteldierbedryf is op die Bloemskou gestel toe byna 70 000 kg-troeteldierkos binne 24 uur ingesamel is.

Petshop Science en Montego Pet Nutrition het ’n nuwe Guinness-wêreldrekord opgestel vir die grootste skenking van troeteldierkos in ’n 24 uur-tydperk. Altesaam 67 200 kg het die vorige rekord van 36 750 kg, wat in 2023 in die VSA opgestel is, maklik oortref.

Die rekordpoging van Vrydag (1/5) om 17:00 tot Saterdag om 17:00 is aangepak in die teenwoordigheid van Guinness World Record-beamptes om elke skenking te verifieer en onafhanklik te bevestig voordat die uiteindelike hoeveelheid aangekondig is, sê Trevor Paxton, hoofbestuurder van Petshop Science.

Die sertifikaat wat die rekord bevestig. Foto verskaf

“Alle troeteldierkos wat ingesamel word, sal verdeel word onder agt geregistreerde dierewelsynsorganisasies in die Vrystaat, met bykomende ondersteuning aan skuilings in ander provinsies, om die voortdurende druk op reddingsorganisasies te help verlig.”

Dit bewys wat moontlik is wanneer mense saamwerk vir ’n goeie doel, meen Paxton. “ ’n Rekord is een ding, maar wat saak maak, is waarheen hierdie kos gaan – en die verskil wat dit sal maak.”

Die span vier die rekord. Foto verskaf

Volgens Johan van Jaarsveld, besturende direkteur van Montego Pet Nutrition, het hierdie rekordpoging hulle die geleentheid gegee om lig te werp op die buitengewone toewyding van die mense wat dierereddingsinstansies bestuur. 

“Ons is trots op wat met hierdie vennootskap bereik is en is net so toegewyd aan die werk wat daarna voortduur.”

Die prestasie dra by tot Petshop Science se breër gemeenskapsimpak, insluitend die skenking van R3,3 miljoen se troeteldierkos en bykomstighede in die afgelope boekjaar aan 35 dierewelsynsorganisasies dwarsoor Suid-Afrika.

Paxton sê sedert die bekendstelling in 2021 het die kleinhandelaar gegroei tot 174 winkels landwyd. Die maatskappy gaan voort om sy voetspoor in al nege provinsies te vergroot, insluitend deur sy vennootskap met Checkers Sixty60.

OFM Nuus cvs

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.