On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Rondloperdiere in Vrystaat raak groot bekommernis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:00 Fri, 08 May 2026

Rondloperdiere in Vrystaat raak groot bekommernis | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Rondloperdiere in die Noordwes-Vrystaat word ’n toenemende bron van kommer en hou ernstige gevaar in vir motoriste.

Diere loop steeds vrylik rond in die Mieliedriehoek, wat padgebruikers wat op distrikspaaie rondom Bothaville, Wesselsbron en Welkom reis, in gevaar stel. Druk neem nou toe op die Lejweleputswa-distriksmunisipaliteit – wat verantwoordelik is vir dienslewering in hierdie dorpe – om dringend in te gryp, sê Mahalia Kose, DA-distriksraadlid.

“Hierdie kwessie het ’n groot gevaar vir motoriste geword, veral snags. Hierdie diere veroorsaak ongelukke wat in baie gevalle sterftes tot gevolg het wat voorkom kon gewees het,” sê Kose.

Die party word glo oorval met klagtes van padgebruikers wat toenemend bekommerd is oor beeste en ander vee wat vry rondloop, veral langs distrikpaaie.

Diere op die paaie hou gevaar in vir motoriste. Foto: iStock

Die situasie plaas enorme druk op nooddienspersoneel, terwyl dit ook vrees en onsekerheid onder motoriste skep, voeg sy by. Die probleem word verder vererger deur die swak toestand van die paaie, waarvan baie vol slaggate is.

“Die munisipaliteit se onvermoë om die probleem effektief op te los, weerspieël ’n versuim om plaaslike verordeninge rakende dierebeheer en padveiligheid af te dwing,” sê Kose. “Die publiek het egter ook ’n verantwoordelikheid om te verseker dat hul diere behoorlik beveilig is en nie op paaie ronddwaal nie.”

Die DA eis strenger wetstoepassingsaksie teen nalatige vee-eienaars en dring daarop aan dat die munisipaliteit tydelik ingryp deur so gou as moontlik bewusmakingsveldtogte te begin.

“Ons pleit ook vir verbeterde instandhouding van heinings langs distrikspaaie,” sê Kose.

Die DA hou vol padveiligheid is ’n gedeelde verantwoordelikheid. “Dringende ingryping is nodig van die distriksmunisipaliteit, sowel as alle plaaslike munisipaliteite in Lejweleputswa, om verdere ongelukke te voorkom,” sê Kose.

OFM Nuus het die Lejweleputswa-distriksmunisipaliteit om kommentaar genader.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.