On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-egpaar se vermeende moordenaars bly agter tralies

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:05 Fri, 08 May 2026

Noordwes-egpaar se vermeende moordenaars bly agter tralies | News Article
Die Gomes-egpaar. Foto Facebook

Die vyf mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n Noordwes-sakepaar vermoor het, sal agter tralies bly tot hul formele borgtogaansoek komende Vrydag (15/5).

Smanga Aron Saulo (37), Tebogo Vincent Kolea (31), Gofaone Ronald Sekobe (27), Gaofengwe Sekobe (21) en Clifford Sekobe (34) het Donderdag (7/5) in die Mmabatho-landdroshof voorgekom. Hulle staan tereg op aanklagte van moord, roof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die beskuldigdes is onderskeidelik Woensdag (29/4) en Donderdag (30/4) in hegtenis geneem in verband met die moord op Sergio en Marlene Gomes in Mahikeng. Die egpaar is Vrydag, 24 April, tydens ’n gewapende rooftog in hul slaghuis in Golf View om die lewe gebring.

Marlene het op die toneel gesterf en Sergio het enkele ure later in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Vier van Noordwes vas ná moord op egpaar in slaghuis | News Article

Sergio en Marlene Gomes. Foto: Facebook

Die polisie het Vrydagaand ’n noodoproep ontvang oor ’n skietery in die woonbuurt Golf View. “Daar gekom, het beamptes bloedvlekke op die sypaadjie waargeneem en ’n vrou se liggaam op die grond aangetref. Sergio is teen daardie tyd reeds hospitaal toe geneem,” het sers. Kelebogile Morake, Noordwes-polisiewoordvoerder, vroeër gesê.

Die paartjie het hulle na bewering van hul huis na die slaghuis gehaas nadat hulle gehoor het hul seun word beroof. “Toe hulle by die sakeperseel aankom, het hulle die rowers in die ingang teëgekom,” sê Morake.

“Die rowers het die slaghuis binnegegaan en die slagoffers gedwing om op die vloer te lê. Hulle het hulle gedreig en aangerand.” Daar was ook klante in die slaghuis wat beroof is.

Die Gomes-egpaar was bekende besigheidseienaars op die dorp. Foto verskaf

Die rowers het talle selfone, kontant, ’n skootrekenaar en die sleutels van ’n Ford Ranger gesteel, wat hulle gebruik het om hulle uit die voete te maak. Die voertuig is die volgende dag verlate in die nedersetting Magogwe naby Mahikeng aangetref. Van die gesteelde selfone is later in ’n nabygeleë veld gekry.

Talle artikels is ná die rooftog teruggevind, maar slegs ’n paar slagoffers wat beroof is tydens die voorval, het na vore gekom, sê Myburgh.

“Slagoffers word aangemoedig om die saak aan te meld deur hul naaste polisiekantoor te kontak.”

Enigiemand met inligting word versoek om die Noordwes-polisie se moord-en-roofeenheid te nader of kol. Kgosi Dihemo by 082 773 0630. Hulle kan ook by hul naaste polisiekantoor aanmeld, Stop Misdaad by 08600 10111 bel of wenke deurgee op die MySAPS-app.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.