Central SA
Vrystater weer in hof ná tref-en-trap-ongeluk─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:12 Fri, 08 May 2026
’n Vrystater, wat daarvan beskuldig word dat hy die dood van sy twee nefies in ’n beweerde tref-en-trap-ongeluk veroorsaak het, sal na verwagting Maandag (11/5) in die hof verskyn.
Nkosana Ngcokwana, ’n amptenaar van die departement van polisie, paaie en vervoer, staan tereg op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur. Hy het na bewering van die ongelukstoneel gevlug, maar is later in hegtenis geneem, sê sers. Josephine Rani, polisiewoordvoerder.
Mahlomola Mofokeng en Lehlohonolo Molete (albei 6) van die township Matlwangtlwang op Steynsrus, is op 4 Februarie helder oordag oorlede. Die nefies, gr. 1-leerders aan die Laerskool Tharollo, was onderweg huis toe van die skool af toe hulle deur ’n voertuig getref is.
Op slag dood
Boy Saaiman, ’n VF Plus-raadslid in Moqhaka-munisipaliteit, het vroeër gesê hy het kort nadat hy werkers in Matlwangtlwang afgelaai het, op die toneel aangekom. Hy het ’n skare opgemerk wat saamdrom en is van die tragedie ingelig.
Saaiman sê die trefkrag van die botsing het die seuns in ’n waterkanaal langs die pad gegooi, en hul liggaam moes uit die water gehaal word. Albei kinders is op slag dood.
’n Gesamentlike gedenkdiens vir die seuns is op 14 Februarie gehou.
Die saak is voorheen tot 26 Maart uitgestel vir verdere ondersoek, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.
Prokureur ook in hof
Intussen sal ’n gewese prokureur na verwagting Woensdag (13/5) voorkom in die streekhof op Klerksdorp op vier aanklagte van strafbare manslag.
Edward Letsie (34) word vervolg in verband met die dood van Ruan Esterhuizen (21), sy meisie, Jackie Willis (21), sy beste vriend, Max Knott-Craig (22), en Jané Janse van Rensburg (19). Sy verhoor het op 23 Januarie begin, byna 18 maande na die noodlottige ongeluk.

Dié vier jong mense het in ’n ongeluk gesterf. Foto’s verskaf
Letsie het die eerste keer op 22 April in die streekhof verskyn nadat die saak aanvanklik in die verkeershof aangehoor is.
André van Aswegen, ’n prokureur wat die Janse van Rensburg-familie bystaan, sê die saak is voorheen uitgestel sodat die staat ’n afskrif van die dossier aan die verdediging kan verskaf.
Dit sou die beskuldigde se regspan in staat stel om sy posisie te bepaal en te besluit hoe om voort te gaan.
Die vier vriende is op 13 Oktober 2024 omstreeks 19:00 in ’n botsing by die kruising van die N12 en Plataanlaan dood.
Hulle was op pad huis toe van die Matlosana-winkelsentrum nadat hulle die dag saam by die dam deurgebring het. Terwyl hulle by ’n verkeerslig stilgehou het, is hul voertuig deur ’n Mercedes-Benz getref wat in die teenoorgestelde rigting gery het.
Esterhuizen, Willis en Janse van Rensburg is op die toneel dood, terwyl Knott-Craig ’n paar uur later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het.
Letsie, die vermeende bestuurder van die Mercedes-Benz, het na bewering van die toneel gevlug en die voertuig agtergelaat, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder. Hy het hom twee dae ná die ongeluk aan die polisie oorgegee.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427.

