Central SA
Noordwes-dansers gereed vir die wêreldverhoog─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:13 Thu, 14 May 2026
Drie jong dansers van Noordwes berei hulle voor om hul talent na die internasionale verhoog te neem nadat hulle die geleentheid gekry het om Suid-Afrika later vanjaar oorsee te verteenwoordig.
Sunèl Henning (7), Renes-may van Wyk (11) en Tinékim de Klerk (12), almal van Orkney, is gekies om in Julie na Orlando in die Verenigde State te reis. Hulle gaan aan ’n internasionale danskompetisie deelneem en by Walt Disney World optree.
Al drie die meisies is dansers van Ultimate Modeling Dance Association Orkney en is gekies nadat hulle op 27 September in die Suid-Afrikaanse nasionale kampioenskap meegeding het. Die dansers is gekies om die land te verteenwoordig op grond van individuele tellings en ranglys waarna die trio bymekaar gesit is.
Volgens die ateljee is slegs tien nommers uit meer as 600 dansers deur Dance Connection gekies om aan die internasionale parade deel te neem, wat die prestasie ’n uitstaande oomblik vir dié plattelandse ateljee maak.

Tinékim de Klerk. Foto verskaf
Die drietal sal op ’n internasionale verhoog meeding, in die Magic Kingdom-parade optree, aan die openingsopvoering van Beauty and the Beast deelneem en meesterklasse bywoon wat deur internasionale beoordelaars en Disney-vermaakbestuurders aangebied word.
Vir Sunèl, ’n gr. 2-leerder aan Laerskool Noordvaal, is dans deel van haar lewe sedert sy vier jaar oud was. “My ma sê ek het rooi miere; so ek skud hulle af wanneer ek dans.”
Sy is mal oor dans omdat sy daarvan hou om toertjies te doen en aktief te bly. Sy oefen elke weeksdag twee tot drie uur ná skool en huiswerk.

Sunèl Henning. Foto verskaf
“Toe ek hoor ek is gekies vir Disney World, het ek gebewe van opgewondenheid toe ek van die verhoog afstap.”
Haar droom is om eendag ’n dansbeoordelaar te word – en, in ware sewejarige styl, om die wêreld plat te reis in ’n privaat straler.
Tinékim, wat tuisonderrig op Orkney ontvang, sê die dansateljee voel soos haar tweede huis sedert sy twee jaar oud was. Sy beskryf dans as die plek waar sy vry voel en waar sy werklik haarself kan wees.'

Tinékim de Klerk. Foto verskaf
“Terwyl baie kinders ’n tipiese skoolroetine volg, spandeer ek my dae om studies te balanseer met ure se strek, repetisies en opleiding. “
Die oomblik toe sy gekies is, voel vir haar steeds onwerklik. “Om oorsee te dans op een van die grootste verhoë is ’n droom wat ek al van kleins af het, vandat ek ’n klein dogtertjie was wat in die huis rondgedans het. Dit is ’n geleentheid om Suid-Afrika met trots op ’n internasionale verhoog te verteenwoordig.”
Vir Renes-may, wat ook aanlyn tuisonderrig doen, het dans veel meer geword as ’n buitemuurse aktiwiteit – dit is haar “veilige plek”.

Renes-may van Wyk. Foto verskaf
Sy het op sesjarige ouderdom begin dans en het sedertdien ’n indrukwekkende rekord opgebou, insluitend die wen van die algehele junior kategorie by die IFAA International Fine Arts Association en die behaal van diamanttellings vir drie van haar danse.
“Ek het glad nie verwag ek gaan gekies word nie. Dit voel soos ’n droom waar harde werk en drome mekaar ’n “high five” gee”.
Erica De Gois, hul dansskool se eienaar en afrigter, vertel die meisies se sukses is die gevolg van jare se dissipline en opoffering. Hulle oefen tot drie uur per dag en woon ook naweke Zoom-repetisies by met internasionale choreograwe ter voorbereiding vir die Disney-parade-opvoering.

Sunèl Henning. Foto verskaf
“Ons is ’n kleindorpse dansateljee met groot harte en selfs groter drome. In ons ateljee gee ons nie net dansonderrig nie, ons bou veerkragtigheid, dissipline en hoop.”
Sy sê hoewel kompetisiegeld en verblyf reeds grootliks gedek word deur die vrygewigheid van borge en gemeenskapslede, jaag die gesinne nou teen tyd om die oorblywende reiskoste te betaal. Die groep van agt reisigers, die drie dansers, hul ma’s en twee afrigters, sal na verwagting op 7 Julie vertrek, met geleenthede wat van 9 tot 15 Julie plaasvind.

Renes-may van Wyk. Foto verskaf
Huidige vliegkaartjiekwotasies vir die groep wissel van ongeveer R375 000 tot byna R600 000, na gelang van die lugredery, wat aansienlike druk op die gesinne plaas ten spyte van ruimhartige gemeenskapsondersteuning.
De Gois sê elke bydrae, maak nie saak hoe klein nie, sal die meisies help om die finale stap te neem om hul land op ’n internasionale verhoog te verteenwoordig.
“Dit is die oomblik waar drome óf vlieënde word óf nie by die aanloopbaan uitkom nie,” sê Erica. “Hulle het nie net ondersteuning nodig nie, hulle het ’n kans nodig.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

