Central SA
Van Zylsrus spog met Afrika se grootste mensgemaakte geoglief─── SUSAN MARÉ 11:13 Mon, 18 May 2026
Geskiedenis is gemaak toe die laaste klip van Afrika se grootste geoglief op sy plek gelê is. Van Zylsrus se mense in die rooi Kalahari hoop hierdie projek sal lei tot kreatiewe ekonomie en toenemend besoekers na die omgewing lok.
Pieter Pienaar, die hart en siel van die projek, sê hy het nege maande met hierdie “klippe-visie” saamgeleef tot die groot oomblik Vrydag (15/5) om 13:00. Hy moes plek-plek letterlik saam met ’n groep dagloners klippe optel en pak.
Die klippe is op Kobus Duvenhage Bouers van Upington se vragmotor gegooi sodat die geogliefspan die geraamde 40 000 kalkklippe kon versamel.
Die geoglief behoort aan die Van Zylsrus Hotel, wat dit tot voordeel van die gemeenskap en die kreatiewe ekonomie van die Kalahari sal bestuur. Die geoglief vestig ook die aandag op plaaslike aasvoëlbewaring.

’n Foto van die span nadat al die werk aan die geoglief afgehandel is. Foto verskaf
Die eerste lyn van die geoglief is vroeg in Oktober gelê voor die eerste Van Zylsrus-kunsteweek. Die tweede en finale lyn – ’n “verdikking” van die eerste – is van 4 tot 8 Mei aangebring.
Pienaar sê die idee om hierdie grote voël op die vlakte naby Van Zylsrus uit te pak, is dié van Anni Snyman en haar broer, PC Janse van Rensburg, die leiers van die Site Specific Collective-landkunsspan.
Die meeste spanlede ken mekaar al vir ongeveer 15 jaar en het reeds n paar geogliewe in Suid-Afrika ontwerp en help pak. Vir hierdie projek was daar vyf nuwelinge in die span.
Anni woon in Johannesburg en PC in Kaapstad. Die ander spanlede het uit alle oorde gekom – Jeffreysbaai, Loxton, Strydenburg, Riebeek-Kasteel, Pretoria, Wolvengat, Stellenbosch en selfs Frankryk.

Die geogliefspan langs die vol rivier wat Van Zylsrus in twee deel. Foto verskaf.
Die span het lekker saam gebly in die Van Zylsrus Hotel se Jagtershut wat deur die geogliefspan “Ararat” gedoop is, “want dit kraak soos ’n skip en lê gestrand so twee duine bokant die vlakte waar die klip-aasvoël nou rustig lê”.
Pienaar sê Anni en haar span doen werklik baie om die armoede in die Karoo te probeer verlig. Hulle reël fietstoere en is betrokke by werkskepping deur weefwerk en kleremakery, en talle ander projekte om gemeenskappe positief te mobiliseer.
Vir Pienaar as Kalahari-kunstenaar en -skrywer was dit ’n besonderse ervaring om saam met ander kunstenaars aan die geoglief te kon werk. Dit is vir hom as ’n boorling van die streek moeilik om te sien hoe hulpeloos en vergete baie mense op die platteland is.

’n Deel van die kliplyn van die geoglief. Foto verskaf
“Ons sien soveel potensiaal in dit wat die geoglief eindelik vir Van Zylsrus en omgewing kan beteken. Dit gaan ’n begrensde gebied wees en sal vir skoolkinders ook ’n unieke eendag-buitelugskool kan bied.
“Op die terrein sal daar op die insekte, reptiele, plante, voëls en ander ekosistemiese aspekte gefokus kan word. Skole kan groepe stuur om byvoorbeeld een nag in ’n tentedorpie te kom oornag waar hulle ook oor die sterre ingelig kan word.
“Ons droom rondom toerisme is dat hierdie geoglief mense na Van Zylsrus sal bring en dat ons hierdeur ’n kreatiewe ekonomiese geleentheid vir ’n gemeenskap geskep het wat swaarkry onder armoede. Ons het reeds van baie dagloners gebruik gemaak om die geoglief se kalksteenklippe te help lê.”

Die voorstelling van die geoglief op Garmin Connect.
“Mense wat die Kgalagadi-oorgrenspark in ons geweste besoek kan gerus ook ’n draai op Van Zylsrus kom maak vir geogliefbesigtiging. Die Kalahari Rooiduinroete waarvan Van Zylsrus nou deel is, is ’n gewilde toeristeroete in die Noord-Kaap wat strek vanaf Upington op die R360 tot by die Kgalagadi-oorgrenspark.”
Die roete is wêreldwyd bekend vir sy kenmerkende rooi sandduine, kameeldoringbome en ryk inheemse kultuur.
“Die Kalahari het ’n unieke ekostelsel van wildritte, perderitte tot woestynwandelings en bied baie vir toeriste. Die geoglief is absoluut waardetoevoeging tot Kalahari-toerisme.”
‘Aasvoëls is van groot belang vir natuur’
Die geoglief self strek oor die breedte van sowat ses rugbyvelde en die kollig van die ontwerp is die witrugaasvoël. Die ontwerp kan reeds op Google Earth besigtig word.
“Aasvoëls is van groot belang vir die natuur. Dit simboliseer die natuurlike proses van aftakeling of wegsterwing, asook transformasie van die dood in nuwe lewe.”
Snyman, wat die geoglief saam met haar broer, PC, ontwerp het, sê die stap van die roete in die aasvoëlgeoglief kan selfs deel wees van iemand se rouproses. Hulle was ook by ander geogliefontwerpe betrokke.
Geogliewe
Ander geogliewe in Suid-Afrika is die Oewerkonyn-geoglief by Loxton oor ’n gebied van 104,5 m by 90 m met ’n wandelroete van amper 1,1 km. Oewerkonyne is ’n kritiekbedreigde spesie.
Daar is die Slangarend-geoglief in Matjiesfontein, die Wit Perd teen Naval Hill in Bloemfontein en die Woestynperd-geoglief op die grens van Namibië.
Die geoglief in Van Zylsrus sal stappers uitdaag op ’n wandelpad van sowat 3,5 km langs ’n ononderbroke lyn. Die oneweredigheid van die kalksteenklippe wat gebruik is, maak die ontwerp juis uitsonderlik en interessant.
Sonder aasvoëls wat ’n bedreigde spesie is, sal karkasse van diere wat ophoop openbare-omgewing- en -gesondheidsrisiko’s inhou. Die sterk maagsure van aasvoëls kan verrotte karkaste verteer van diere wat met moontlike siektes besmet is.
Die geoglief in die vorm van ’n witrugaasvoël doen dié bedreigde spesie eer aan en beklemtoon hoe belangrik aasvoëls in die natuur is.
Die Geoglieffees wat op 9 Mei sou plaasvind, moes afgestel word omdat Van Zylsrus weens die watervloed van die Kurumanrivier as’t ware in twee gedeel is.
Die “Klipkonstabel van Van Zylsrus”, soos wat met ’n glimlag na Pieter Pienaar verwys word omdat sy droom oor die geoglief verwesenlik is, beloof ’n tweede kunsteweek word wel vir die dorp beplan omdat die kunste dit nodig het om in die Kalahari te blom.
Groot fees beplan
“Ons sal ’n geoglieffees van formaat hou. Ons wil graag ons plaaslike gemeenskap ophef en buitegewone geleenthede skep waaraan hulle kan deelneem.”
Skilderklasse, uitstallings, skrywers wat saamkom, ’n orrelkonsert in die kerk, stalletjies, Kalahari-kos, musiek en sang word beplan.
“Teen dan het die rivier lankal gesak en sal die tyd reg wees vir n feesviering wat Van Zylsrus nog nie gesien het nie. Ons hoop sommer die hele Noord-Kaap se mense kom na die geoglieffees.”
OFM Nuus/Susan Maré cvs dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

