On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse skopbokser (11) wil in Dricus du Plessis se voetspore volg

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:32 Mon, 18 May 2026

Vrystaatse skopbokser (11) wil in Dricus du Plessis se voetspore volg | News Article
Miané van der Westhuizen sal van 18 tot 27 September in Venesië deelneem aan die wêreldkampioenskap van die Wêreldvereniging van Skopboksorganisasies (Wako). Foto verskaf

Op die ouderdom van net elf het ’n Vrystaatse skopbokser reeds nasionale kleure verwerf en kry sy die geleentheid om Suid-Afrika te verteenwoordig op die Wêreldskopbokskampioenskap in Venesië.

Miané van der Westhuizen het net langer as ’n jaar gelede met skopboks begin. In hierdie kort tydjie het sy reeds haar stempel afgedruk deur twee goue medaljes en een silwer op die SA Nasionale Skopbokskampioenskap van 24 tot 29 April te verower.

Die gr. 6-leerder aan die Primêre Skool Universitas in Bloemfontein het in Maart verlede jaar by die Lengua Skopboksakademie begin oefen nadat sy geïnspireer is deur Dricus du Plessis, die eerste Suid-Afrikaner wat ’n UFC-wêreldtitel (gemengde gevegskuns) kon wen.

Volgens haar ma, Monique, het Miané van meet af uitgeblink danksy haar natuurlike talent en die feit dat sy ’n ambidekster is – sy is ewe vaardig met albei hande en voete.

Miané van der Westhuizen het twee goue medaljes en een silwer op die SA Nasionale Skopbokskampioenskap van 24 tot 29 April verower. Foto verskaf

“Haar afrigter, Brendan Davis, het vinnig haar potensiaal raakgesien en haar aangemoedig om die sport ernstig op te neem. Sy oefen nou ses dae per week vir twee uur per dag terwyl sy steeds haar skoolwerk, hokkie en akademiese prestasies balanseer,” sê Monique.

Op die nasionale kampioenskap is Miané as nasionale kampioen in twee skopboksstyle bekroon en het sy tweede in ’n derde afdeling gekom. Haar vertoning het die beoordelaars só beïndruk dat sy vir die Protea-skopboksspan gekies is.

Plekke in die nasionale span word nie net toegeken aan vegters wat titels wen nie, vertel Monique. “Ná die toernooi bespreek die beoordelaars en skeidsregters wie hulle glo werklik op wêreldvlak kan presteer, en Miané was een van die vegters wat gekies is.”

Die gesin is ongelooflik trots op wat sy in só ’n kort tyd bereik het. “Miané het bewys dat sy ’n krag is om mee rekening te hou. Sy het haar hart uitgeveg en met twee goue medaljes en een silwer weggestap. Ons is so trots op ons eerste Protea in die familie.”


Die geleentheid om in September internasionaal mee te ding, is volgens die ma ’n droom wat waar geword het. “Sy kan nie wag nie en begin klaar opgewonde raak om goud huis toe te bring.”

Miané sal van 18 tot 27 September in Venesië meeding waar tussen 2 000 en 5 000 deelnemers van sowat 140 lande na verwagting aan die kampioenskap sal deelneem onder die vaandel van die Wêreldvereniging van Skopboksorganisasies (Wako). Dit is die enigste skopboksorganisasie wat deur die Internasionale Olimpiese Komitee erken word.

Indien Miané goed presteer, kan sy ’n junior Wako-wêreldtitel wen, dieselfde titel wat Dricus du Plessis vroeër in sy loopbaan gewen het voordat hy sy groot deurbraak in professionele gemengde gevegskuns gemaak het. Die titel word as die hoogste eer in wêreldskopboks beskou.

Miané in aksie. Foto verskaf

“ ’n Wêreldtitel kan ook groot deure vir haar toekoms oopmaak. Dit kan borgskappe van groot handelsmerke, internasionale sportbeurse van universiteite en selfs professionele geleenthede in die sport moontlik maak.”

Maar, agter die opwinding lê ’n groot finansiële uitdaging. Om op wêreldvlak mee te ding, kos ongeveer R70 000 per atleet, en Miané en haar afrigter se gesamentlike uitgawes bedra sowat R140 000. Vir die groter Bloemfontein-span is die totale koste net minder as R500 000.

Sonder enige regeringsfinansiering vir wêreldkampioenskappe moet gesinne self die koste dra. Die uitgawes sluit in vlugte, verblyf, inskrywingsgeld, amptelike toerusting en reisreëlings.

’n Geldinsameling is noodsaaklik om die druk op Miané en haar ondersteuningspan te verlig, vertel haar ma. “Wanneer vegters na wêreldkampioenskappe gaan, wil jy hê hulle moet net fokus op voorbereiding en hul beste lewer.

“Vir iemand soos Miané, wat nog op skool is, hokkie speel en akademies goed presteer, is daar reeds baie druk, geldelik en emosioneel.

“Dit is ongelukkig baie duur vir Suid-Afrikaners om aan wêreldkampioenskappe deel te neem omdat daar tans geen regeringsfinasiering beskikbaar is nie. As ons van die geldelike druk kan verlig, stel dit Miané en haar hele ondersteuningspan in staat om hulle toe te spits op haar prestasie en nie op ander bekommernisse nie.”

Om Miané se droom moontlik te maak, het die gesin ’n insamelingsveldtog van stapel gestuur. Hulle vra die gemeenskap en ondernemings se steun om dit te help verwesenlik.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.