Central SA
Wernich Botha-hofsaak: Vuishou dra glo by tot slagoffer se dood─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:42 Tue, 19 May 2026
’n Staatspatoloog het in ’n hoëprofiel-moordsaak in Noordwes getuig die vuishou wat die slagoffer gekry het, was die deurslaggewende faktor wat tot sy dood gelei het.
Dr. Christina Maria Human, wat die nadoodse ondersoek uitgevoer het, het Maandag (19/5) aan die streekhof in Klerksdorp gesê Hilton Pretorius het akute respiratoriese noodsindroom ontwikkel. Dit het moontlik verband gehou met longontsteking en ’n ernstige breinbesering.
Die komplikasies van die vuishou sou nie ontwikkel het as hy nie die aanvanklike beserings opgedoen het wat tot sy hospitaalopname gelei het nie, het sy getuig.
Pretorius is op 19 September 2023 oorlede, 18 dae nadat hy op 1 September deur Wernich Botha by die Cadillac se 60s Pub in Doringkruin, Klerksdorp, in die parkeerterrein aangerand is.

Hilton Pretorius het ernstige kopbeserings opgedoen en is in September 2023 oorlede. Foto: Facebook
Botha word daarvan beskuldig dat hy die dood van Pretorius veroorsaak en die sakeman PW Roos aangerand het. Sy moordverhoor is Maandag ná byna vier maande hervat. Hy staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord.
'n Bron wat in die hof teenwoordig was, het aan OFM Nuus gesê dat die atmosfeer tydens die verrigtinge emosioneel was, veral toe lede van die Pretorius-familie getuienis met betrekking tot die voorval gehoor en daarop gereageer het.
Die vier dag lange hofsaak sal Dinsdag voortgaan met die verdediging wat glo ’n projektor sal gebruik om videobeelde van die voorval tydens kruisondervraging aan te bied. Roos sal na verwagting getuig.
Die voorval het plaasgevind nadat Botha na bewering vir Pretorius saam met sy destydse meisie, Natasha van der Merwe (voorheen Fisher), by sy huis saam in die bed gevind het.

Linda Mey, Hilton Pretorius se ma, saam met sy suster, Lindie Geldenhuys, en sy broer, Danie Pretorius, vroeër in die hof. Foto: Charne van der Merwe
Van der Merwe was voorheen in ’n verhouding met Pretorius en het reeds in die verhoor getuig en aan die hof gesê dat Botha Pretorius aangerand het terwyl hy geslaap het. Dit het gelei tot ’n konfrontasie wat in die straat en later by die kroeg voortgeduur het, waar die noodlottige voorval na bewering plaasgevind het.
Pretorius het glo vir haar honderde boodskappe gestuur waarvan sy sommige as dreigend beskryf het, het sy getuig. Botha hou egter vol dat hy uit selfverdediging opgetree het en ontken die moord- en poging tot moordaanklagte. Hy beweer Roos het hom eerste tydens die woordewisseling geslaan.
Linda Mey, Pretorius se ma, sê dis Dinsdag 991 dae sonder Hilton. “Sal die swaar klip in my hart wat ek saam met my dra nooit, ooit ligter word? Met tyd kom nuwe harde skerp punte by wat oor en oor seer maak. Die Here weet ek mis jou, Hielie.”
Sy bedank elke persoon wat vir die famile bid en sê sy is dankbaar dat die saak nou begin het en getuies geroep word. Pretorius se twee laerskoolkinders bly by hul ma met wie hy voorheen getroud was.
“Vir nou bly ons by God. Ek vra Sy getroue teenwoordigheid in alles. Ek bid gedurig vir die saak en ons almal. Ek sê baie dankie aan my kinders wat getrou my ondersteun in baie swaar tye.”
Botha is werksaam as ’n onderhoudswerker by ’n kamp in Somalië en kan slegs met tussenposes van drie maande die hofverrigtinge bywoon weens sy werkskedule. Hy werk vir drie maande op ’n slag in die buiteland voordat hy vir drie weke na Suid-Afrika terugkeer. Caswell Ntoyi vervolg die saak, terwyl Botha deur Kobus Burger en Hennie du Plessis verteenwoordig word.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

