On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Stapper, skaatsplankryer trek aandag op paaie in Sentraal-Suid-Afrika

───   SUSAN MARÉ 12:50 Tue, 19 May 2026

Stapper, skaatsplankryer trek aandag op paaie in Sentraal-Suid-Afrika | News Article
Vicky Verster op pad vir haar siek kleindogter Lyra. Foto verskaf

Oplettende voertuigbestuurders kon die laaste ruk twee ongewone reisigers op paaie in Sentraal-Suid-Afrika waarneem.

Die een is ’n stapper onderweg van Jan Kempdorp na Durban. Die ander is ’n skaatsplankryer wat vanaf Uganda op pad is na Kaapstad.

Vicky Verster het 4 Mei al te voet die pad na die Pavilion Mall in Durban aangedurf om geld in te samel vir haar kleindogter wat aan ’n seldsame siekte ly. Die Amerikaanse skaatsplankryer, wat reeds deur Bloemfontein is op pad na Kaapstad, samel geld in vir ’n groot skaatsplankpark in Uganda.

Jason Vanporppal (26), ’n uithouvermoë-skaatsplankryer en mediapersoonlikheid van Los Angeles, het al wêreldbekendheid verwerf deur vir liefdadigheid vastelande op sy skaatsplank te deurkruis. Hy het op nege jaar daarmee begin.

Deon de Jager van Human Auto Ford maak kennis met die skaatsplankryer Jason Vanporppal. Foto verskaf

Vanporppal het die skool as ’n tiener verlaat en was in ’n stadium drie jaar lank haweloos. Hy het lank teen depressie en drankmisbruik geveg. Toe word skaatsplankry ’n reddingsboei om hom weg te hou van dwelms en bendebedrywighede.

Sy skaatsplanktoere is indrukwekkend. Hy het 76 dae van die Amerikaanse deelstaat Kalifornië na New York afgelê om bewusmaking te skep en geld in te samel, die hele Japan deurkruis en duisende dollar ingesamel vir behoeftige kinders. Toe durf hy Afrika aan.

Jason vertel op sosiale media die reis van Uganda na Kaapstad is die uitdagendste tot dusver. Die hoofdoel van sy ekspedisie is om geld in te samel om Uganda se grootste openbare skaatspark te bou wat baie vir behoefte jeugdiges daar sal beteken.

Elsabé Burger Van Zyl het aan Jason Vanporppal botteltjies water oorhandig. Foto verskaf

Hy is deur lande soos Zambië en Botswana en het stede soos Pretoria, Johannesburg en Bloemfontein aangedoen. Hy bevind hom op die oomblik op die N1 in die Karoo.

Jason dokumenteer daagliks die liggaamlike en geestelike eise van sy reise. Hy gebruik sy platform om die evangelie te verkondig en mense te inspireer om hul drome na te jaag.

Die amptelike geldinsameling vir sy Afrika-projek vorder goed en kry veral sterk momentum noudat hy in Suid-Afrika is. Hy gebruik die platform GoFundMe en alle geld gaan direk na die Kampala Skateboard Initiative (KSI).


Hy en twee medeskaatsplankryers, Isaac Jojinah en Ephraim Ssekiziyivu, droom van ’n groot, veilige skaatsplankpark van beton in Uganda. Baie kinders in minder gegoede woonbuurte beoefen die stokperdjie op gevaarlike grondpaaie en rowwe terrein. 

Die plan is om jeugdiges te voorsien van onder meer skaatsplanke, skoene en veiligheidstoerusting. Die KSI word wêreldwyd ondersteun.

Deon de Jager van Human Auto Ford in Bloemfontein vertel hy het toevallig by die toergroep verbygery. Hulle het almal plat op die rug gelê om ’n bietjie te rus. Hy het stilgehou en gevra of hy hulle met sy bakkie êrens heen kan vervoer.

Skaatsplankwieletjies hou nie lank op die SA paaie nie. Foto verskaf

Jason het gesê hulle is piekfyn. Hy ry totdat dit donker is, dan merk hulle die pad om die volgende dag weer daarvandaan te vertrek. Sy klagte is die Suid-Afrikaanse paaie is baie onegalig. Deon glo hulle moet ’n goeie voorraad skaatsplankwieletjies byderhand hou.

Nog ’n Bloemfonteiner, Elsabé Burger Van Zyl, het van die Rosestad se gasvryheid gedeel deur aan Jason botteltjies water te oorhandig.

Die Noord-Kaapse stapper Vicky is ’n fikse ouma wat sowat 832 km van Jan Kempdorp na Durban stap om geld in te samel vir die uitdagings van haar kleindogter, Lyra, se seldsame siekte.

 Tirosinemie tipe 1-siekte is by haar gediagnoseer. Sy wag op ’n leweroorplanting in die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad.

In Lyra se geval is die leweroorplanting ’n laaste uitweg en haar siekte word tans met medikasie en ’n dieet bestuur. Daar is ’n nypende tekort aan orgaanskenkers in Suid-Afrika en van die medikasie wat Lyra moet gebruik, is nie plaaslik verkrygbaar nie.

Vicky is op 16 Mei reeds verby Clarens. Ongelukkig kon sy nie ’n borg vir ’n beskermingsvoertuig vind nie. Maar oral ervaar sy besonderse gasvryheid.

Só het Vicky Verster haar koue nag in Fouriesburg deurgebring danksy die vriendelikheid van die plaaslike polisiebeamptes. Foto verskaf

Al sukkel sy met blase onder haar voete en ’n seer enkel, is sy vasbeslote om deur te druk tot in Durban. Sy sê haar Fouriesburg-ervaring toe sy nie slaapplek kon kry nie, het haar daaraan herinner dat goedhartigheid soms uit onverwagte oorde kom. Sy was genoodsaak om by die plaaslike polisiekantoor skuiling te soek.

Terwyl sy in vriesende koue gewag het, het ’n sakeman, Thato Mokotsolane, dit vir haar moontlik gemaak om veilig en beskut voor ’n vuur te sit en warm word, terwyl sy vir die polisie wag.

“Ek wil Thato bedank vir sy goedheid, die warm vuurtjie en sy donasie vir Lyra. Dankie aan die polisiemanne van Fouriesburg wat beskerming en skuiling gegee het in ’n koue nag.

‘My siek kleindogter is in elke tree wat ek gee’

“Hierdie reis van my gaan nie oor kilometers nie – ek word verryk deur die goedheid en omgee van mense wat my moed gee vir die roete wat ek loop. Dit is ook ’n geleentheid vir bewusmaking vir my kleindogter se rare siekte.

“Ek het wonderlike gasvryheid in dorpe gevind in die twee provinsies en betree nou die derde provinsie met mense wat uitsien na my koms in Durban.”

Sy hoop om die Pavillion Mall op 28 Mei te bereik en verwag die Drakensberg-omgewing gaan haar letterlik en figuurlik opdraande gee, veral haar seer enkel.

“My siek kleindogter is egter in elke tree wat ek gee – dit hou my optimisties en sterk.”

OFM Nuus/Susan Maré dgcvs

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.