Central SA
Tiener van Vaaldriehoek nou sewende ter wêreld met hamergooi─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:58 Wed, 20 May 2026
’n Seun van die Vaaldriehoek het internasionale aandag getrek nadat hy ’n indrukwekkende hamergooiprestasie behaal het.
John-Pierre Theron (17) het nie net sy persoonlike beste verbeter nie, maar ook sy kans versterk om later vanjaar op die wêreldverhoog mee te ding. Hy neem al sedert 2023 deel aan hamergooi en sê sy passie vir die sport het van die begin af net gegroei.
Die gr. 11-leerder van die Hoërskool Driehoek het op 9 Mei tydens ’n atletiekbyeenkoms in Potchefstroom sy nuwe persoonlike beste van 73,76 m behaal. Dié afstand plaas hom sewende in die wêreld in sy ouderdomsgroep.

JP in aksie. Foto verskaf
Reeds op 28 Maart het hy op die Atletiek SA-kampioenskap in Germiston koning gekraai met ’n gooi van 71,24 m. Op 2 Mei het hy ook die SA Skoleatletiek-kampioenskap in die Pilditch-stadion in Pretoria gewen met ’n afstand van 70,36 m.
“Om ’n rekord te verbeter is merkwaardig en dit motiveer my om aan te hou werk, want ek weet my krag kom van die Here,” vertel die jong atleet, wat reeds talle skool- en provinsiale rekords in dié item opgestel het. Sy vorige persoonlike beste was 71,24 m, maar die 73,76 m in Potchefstroom was ’n reuseverbetering.

JP saam met Alan en Chris. Foto verskaf
Theron oefen onder leiding van Chris Harmse, die Suid-Afrikaanse rekordhouer, en Alan Cumming, voormalige Afrika-kampioen.
Hy hoop Atletiek Suid-Afrika sal hom kies vir die Olimpiese Jeugspele wat van 31 Oktober tot 14 November in Dakar, Senegal, plaasvind. Volgens World Athletics moet atlete onder die top-16 in die wêreld wees om te kwalifiseer.
“Ek wil net eer aan die Here bring. Dan is my drome en doelwitte vervul, en as dit sy wil is, sal ek graag op internasionale vlak ook vir Hom eer bring,” sê Theron.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

