Central SA
Springfontein-krisis: Inwoners pleit vir DBV-ingryping─── REFILWE BEKANE 15:00 Wed, 20 May 2026
Inwoners van Springfontein doen ’n dringende beroep op die DBV om in te gryp weens ’n groeiende dierebevolkingskrisis op die dorp.
Volgens Karen Husselmann, ’n plaaslike inwoner en dierewelsynsvrywilliger, is daar geen diereskuiling of gereelde veeartsenydienste beskikbaar nie. Die aantal ongewenste diere neem steeds toe – hoofsaaklik weens die afwesigheid van sterilisasiedienste en die uitdagende ekonomiese klimaat.
Husselmann dra grotendeels self die las van diereversorging op die dorp, met ander inwoners wat sporadies bydra deur kos te voorsien. Sy vertel dat rondloperhonde, veral dié van plaaswerkers, gereeld kleintjies kry wat dan in die plaaslike townships versprei word.
“Ek doen wat ek kan deur die honde na die staatsveearts op Smithfield te neem vir sterilisasie. Dit is natuurlik op my eie koste, en as pensioentrekker raak dit onhoudbaar,” sê sy.
Sy voer daagliks rondloperhonde en huisves tans 16 honde op haar eiendom. Hoewel ’n vorige inisiatief deur plaaslike boere die DBV van Bloemfontein in September na die dorp gebring het, was daar sedertdien geen opvolgbesoeke van enige dierewelsynsorganisasie nie.
“Versoeke aan die Nasionale Raad van DBV’s het bloot gelei tot riglyne oor hoe om klagtes aan te meld, met die belofte dat inspekteurs dalk sou kom as hulle in die omgewing is. Tot op hede was daar geen besoek nie,” sê Husselmann.

Husselmann stel voor dat plaaslike boere hul werkers se diere self na sterilisasie-afsprake vervoer. Foto: Freepik
Sy beklemtoon dat die situasie sedert 2025 verder versleg het: “Weens die uitbreking van bek-en-klouseer het die staatsveearts sedert September verlede jaar ook nie die dorp besoek nie.
“Daar is geen inentings teen hondsdolheid nie, en geen ander bystand is beskikbaar nie.”
Die onmiddellike behoeftes sluit in:
- Geldelike bydraes
- Skenkings van troeteldierkos
- Vervoerbystand om diere na veeartse op Smithfield of Fauresmith te neem vir sterilisasie
Husselmann stel voor dat plaaslike boere hul werkers se honde self na sulke afsprake vervoer om verdere voortplanting te beperk. Rondloperhonde kan uiteindelik ’n bedreiging vir vee op omliggende plase inhou.
’n Formele versoek is intussen aan die nasionale DBV gerig om die Bloemfonteinse tak op te dra om kleiner dorpe volgens ’n skedule te besoek wanneer spesifieke versoeke ontvang word. Dit sal help om ongewenste diere verantwoordelik te verwyder en verdere lyding te verhoed.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

