On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

’n Verjaarsdagwens wat nie gekoop word nie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:47 Wed, 20 May 2026

’n Verjaarsdagwens wat nie gekoop word nie | News Article
Hannes is 'n groot musiekliefhebber. Foto verskaf

Terwyl die meeste tieners wat 18 word, wens vir materiële dinge, het ’n jong man van Noordwes ’n ander hoop op sy verjaarsdag Woensdag (20/5): ’n lewensreddende beenmurg-skenking.

’n Geskenk wat nie gekoop kan word nie, maar een wat Hannes Hern van Klerksdorp die kans op ’n gesonde toekoms kan gee. Vir hom dra hierdie mylpaalverjaardag ’n gewig wat veel verder gaan as net ’n viering.

In plaas daarvan om sy toekoms op die gewone manier te beplan klou hy vas aan die hoop dat êrens ’n geskikte skenker betyds gevind sal word om sy lewe te red.

Net drie maande voor Hannes se sewende verjaardag is Fanconi aplastiese anemie, ’n seldsame en ernstige toestand wat totale beenmurgversaking veroorsaak, by hom gediagnoseer. Al is hy daarmee gebore, is dit toe eers ontdek. Albei sy ouers, Johan en Sulette, dra die Fanconi-geen, wat tot sy diagnose gelei het.

Hannes in die hospitaal. Foto verskaf

Van jongs af was die tekens sigbaar. “Ek het permanent gelyk asof ek mishandel word met honderde klein blou kolletjies oor my hele lyf,” onthou hy. Op sewe het hy steeds klere gedra wat eintlik bedoel was vir baie jonger kinders, slegs 75 cm lank, met sy liggeel vel en gereelde erge neusbloeding.

Die oomblik van diagnose is steeds helder in sy geheue. “Ma en pa het na mekaar gekyk en my pa het net my ma se hand gevat. Die dokter het my gevra of ek al die fliek gesien het van die seuntjie wat in die plastiekborrel bly.

“Hy het verduidelik ek is min of meer net so siek soos hy. Ek het egter nie die volle werklikheid van wat voorlê, verstaan nie.”

Hannes en sy pa, Johan. Foto verskaf

Sedertdien was Hannes se reis gevul met mediese prosedures en hospitaalbesoeke. Hy het 17 beenmurgbiopsies ondergaan, honderde bloed- en plaatjie-oortappings ontvang, en skat dat hy “plus minus 2 000 keer gesteek is” vir drups, toetse en narkose.

In een stadium het hy ’n J-lyn vir 18 maande laat insit, ’n tydperk wat hy as besonder moeilik beskryf, aangesien dit sy normale kinderaktiwiteite soos swem, speel en selfs oorslaap by vriende se huise beperk het.

“Ek is ook verskriklik by die skool geboelie as gevolg van my lengte en stem,” en verduidelik hy hoe die siekte nie net sy liggaam beïnvloed het nie, maar ook sy emosionele en sosiale ontwikkeling. Jare lank is sy toestand bestuur deur gereelde bloed- en plaatjie-oortappings, wat hom gehelp het om te onderhou.

Hannes beskryf sy ma as sy grootste ondersteuner. Foto verskaf

Drie maande gelede het sy gesondheid egter ’n ernstige wending geneem. Sy bloedtellings het drasties verander, en na verdere toetse het dokters Miëlodysplastiese sindroom met oormatige blaste-1 (MDS-EB-1) by hom gediagnoseer, ’n toestand wat nou vorder na Miëlodysplastiese sindroom met oormatige blaste-2 (MDS-EB-2), ’n vorm wat in leukemie kan ontwikkel.

Vandag draai sy daaglikse lewe om behandeling. Hy ontvang sewe dae per maand chemoterapie (Vidaza) in ’n poging om die siekte te onderdruk, tesame met plaatjie-oortappings elke vyf tot ses dae. Die newe-effekte, pyn en sigbare simptome het deel geword van sy daaglikse werklikheid.

Ten spyte hiervan het Hannes verlede jaar sy matriek voltooi deur tuisonderrig om sy gesondheid te beskerm. Hoewel dit hom ’n akademiese voorsprong gegee het, het dit teen ’n prys gekom. “Dis ’n eensame pad,” sê hy. “My ma is my grootste ondersteuner en beste vriendin.”

Hannes saam met sy ma en broer Dawie. Foto verskaf

Baie van die dinge wat ander tieners as vanselfsprekend aanvaar, is stadig van hom weggeneem. Hy moes karate en Eskrima (’n Filippynse gevegskuns) stop om beserings en onsteking te vermy, en mettertyd is selfs vriendskappe deur die siekte beïnvloed. “Buite speel het aanlynspeletjies geword,” sê hy.

Hy het ook persoonlike verlies ervaar, insluitend die dood van sy beste vriend, Daniël Beetge, wat ook Fanconi-anemie gehad het en nie betyds ’n skenker ontvang het nie.

Nog ’n noue verlies was die jong sanger Keegan Rossouw, wie se ouers later vir Hannes sy tromme gegee het ná sy afsterwe. Keegan het ook Fanconi gehad.

Die soektog na ’n skenker duur voort, maar tot dusver was daar geen pasmaat nie. Uit ’n geraamde 35 miljoen geregistreerde internasionale skenkers was geen een geskik nie. Sy ma moedig steeds mense aktief aan om te registreer en getoets te word, maar die proses is stadig en die tyd is onseker.

“Ek het van die begin af geweet hoe dringend dit was,” sê Hannes. Dokters kan nie ’n duidelike tydlyn gee nie, net dat dit weke of ’n paar maande sonder ’n oorplanting kan wees. “Dit is en bly God se wil.” Al verjaarsdagwens wat hy het, is dat hierdie bitter beker by hom mag verbygaan.

“Donker. Seergemaak. Magteloos en senutergend,” dis hoe Hannes sy toekoms beskryf. Maar selfs in die aangesig van onsekerheid hou hy vas aan iets wat hom deur jare van siekte gedra het – sy liefde vir musiek.

Hannis is ’n kranige trom- en kitaarspeler wat na AC/DC en klassieke rock luister. “Ek is op die trap na die hemel; nie die snelweg na die hel nie.”

Hannes glo daar is geen groter eer as om iemand se lewe te help red nie. “Om te weet iemand haal asem as gevolg van jou … As die bordjies verhang was, sou ek dit in ’n hartklop gedoen het!”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.