On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Meer as net ’n boer: Jongboer-finalis wil terugploeg

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:59 Wed, 24 Jun 2026

Meer as net ’n boer: Jongboer-finalis wil terugploeg | News Article
JP en Melinda Nel. Foto verskaf

Waar ander boere dalk net na produksiesyfers kyk, sien JP Nel tweede kanse.

Op sy plaas Enkelbos buite Vryburg glo hy elke dier verdien nog ’n geleentheid. Dis ’n lewensfilosofie wat nie net sy boerdery nie maar ook sy eie lewe en dié van sy gesin gevorm het.

Vandag is dié passievolle jong boer een van Agri Noordwes se finaliste in die Jongboer van die Jaar-kompetisie. Vir JP was die benoeming nooit iets wat hy verwag het nie. “Dit is ’n groot prestasie,” vertel hy.

“Ek het nooit gedink ek sal hier uitkom nie. Maar deur die beoordelingsproses het ek reeds ongelooflik baie geleer. Om by ander jong boere te leer wat al aan die kompetisie deelgeneem het, is vir my van onskatbare waarde. Ek glo ons kan ons boerdery nou na die volgende vlak neem,” sê hy.

JP het reeds nasionale erkenning ontvang toe hy as die Pretoria-streekwenner van die South African Lamb Champs aangewys is. Foto verskaf

JP en sy vrou, Melinda, boer die afgelope vier jaar saam op Enkelbos, waar hulle ’n veelsydige boerdery opgebou het met skape, voerkraal-lammers, braaikuikens en kalwers. Hoewel elke vertakking ’n belangrike rol speel, bly sy grootste passie die Dorper-stoet wat hy jaar ná jaar uitbrei.

“Ons droom is om binne die volgende vyf jaar ons eie stoetveilings aan te bied waar ons ons eie genetika aan die publiek kan verkoop. Daarom sit ons baie tyd en energie daarin om die regte vervangingsooie te hou, die beste ramme aan te koop en uiteindelik genetika te ontwikkel waarop ons met trots ons plaas se naam kan sit.”

Die besluit om met verskeie vertakkings te boer, was ’n strategiese een. Uitdagings soos bek-en-klouseer het JP weer gewys hoe belangrik dit is om risiko’s te versprei. “Jy kan nie al jou inkomste uit een bron verwag nie. As een afdeling swaarkry, moet daar ander vertakkings wees wat die boerdery aan die gang hou.”


Sy benadering tot boerdery word verder versterk deur sy akademiese agtergrond. Hy het drie diplomas aan die Noordwes-Universiteit voltooi in projekbestuur, gevorderde projekbestuur en middelvlakbestuur.

“Voordat ons enige nuwe projek aanpak, stel ons eers ’n behoorlike besigheids- en projekplan op. Ek kyk eerder twee keer na ’n besluit as om net in te spring. Ons werk die risiko’s uit en maak seker dit is volhoubaar.”

Dié bestuursbeginsels help hom ook om sy werkers se behoeftes beter te verstaan en probleme vroegtydig aan te spreek. Hoewel tegnologie vandag ’n belangrike rol speel, beskryf JP homself steeds as ’n “hands-on”-boer.

JP besoek daagliks sy diere op die plaas. Foto verskaf

“Ek is elke dag twee, drie of selfs vier keer tussen my diere. As daar ’n probleem ontstaan, wil ek dit dadelik sien en aanspreek voordat dit te laat is. Jy sien ook vinnig wanneer daar probleme met weiding of kampe is. Niks kan daardie persoonlike betrokkenheid vervang nie.”

Dié persoonlike benadering strek ook na sy kliënte. JP glo sterk in direkte verkope en bou doelbewus langtermynverhoudings met mense wat sy produkte koop.

“Ons doen nog baie van die aflewerings self. Ek wil hê mense moet weet waar hul vleis vandaan kom en wie dit produseer. Daardie verhouding maak ’n groot verskil.”

‘Vir JP eindig boerdery nie by die plaashek nie’

Sy uitstekende gehalte-lammers het reeds nasionale erkenning ontvang toe hy as die Pretoria-streekwenner van die South African Lamb Champs aangewys is. Maar vir JP eindig boerdery nie by die plaashek nie.

Hy dien as ondervoorsitter van die plaaslike boerevereniging en as jongboerverteenwoordiger. Hy is ook aktief betrokke by AfriForum se plaasveiligheidstrukture, speel ’n leidende rol in die Vryburg-buurtwag en dien op die plaaslike vullisterreinkomitee.

Hy en Melinda ondersteun verder plaaslike sportklubs en is aktief in hul kerk. “Dit is vir ons belangrik om terug te ploeg in die gemeenskap. As die gemeenskap nie floreer nie, gaan ons boerdery ook nie floreer nie.”

JP en Melinda Nel. Foto verskaf

Een van die grootste uitdagings waarmee boere tans te kampe het, is plaasveiligheid. “Diefstal neem toe en plaasaanvalle bly ’n werklikheid.

“Wanneer ’n boer sy lewe verloor, verloor ons nie net ’n mens nie – ons verloor ’n hele biblioteek van kennis. Daarom is dit vir ons belangrik om veiligheidsnetwerke te bou en opleiding aan te bied.”

Ten spyte van die uitdagings bly sy lewensuitkyk positief. Die filosofie van tweede kanse waarop Enkelbos gebou is, het sy oorsprong in sy gesin se persoonlike ervaring nadat beide sy vrou en skoonpa hartoorplantings ondergaan het.

“Ons voel ons kry elke dag tweede kanse. Daarom kyk ons anders na ons diere. As ’n ooi een jaar nie produseer nie, gee ons haar nog ’n kans. Ons probeer vir ons diere die beste lewe gee, want ons weet hoe kosbaar ’n tweede kans is. God gee ons altyd kanse.”

Jong mense wat graag hul plek in die landbou wil vind, moet nooit in hulself twyfel nie. “Daar gaan altyd mense wees wat praat, maar as jy iets aanpak, doen dit voluit. Moenie opgee nie. Suid-Afrika het nuwe boere nodig, en ons moet hulle ondersteun,” sê JP.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.