Central SA
Noordwes-slaghuis terug na normaal ná noodlottige skietery─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:18 Fri, 22 May 2026
Die slaghuis in Noordwes waar ’n sake-egpaar doodgeskiet is, is weer oop.
Personeellede sê hulle doen weer sake soos voor die voorval op Vrydag 24 April. Die eienaars, Sergio en Marlene Gomes, is op dié dag tydens ’n gewapende rooftog in hul onderneming in Golf View, Mahikeng, aangeval.
Smanga Aron Saulo (37), Tebogo Vincent Kolea (31), Gofaone Ronald Sekobe (27), Gaofengwe Sekobe (21) en Clifford Sekobe (34) sou weer Vrydag (22/5) in die Mmabatho-landdroshof voorkom vir ’n borgtogaansoek. Hulle staan tereg op aanklagte van moord, roof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Marlene is op die toneel dood verklaar, terwyl Sergio later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het, sê sers. Kelebogile Morake, Noordwes-polisiewoordvoerder.

Sergio en Marlene Gomes is by hul slaghuis geskiet. Foto: Facebook
’n Man in die Totobola-slaghuis wat vra om anoniem te bly, het Vrydag aan OFM Nuus gesê hy is in beheer van die onderneming, net soos voor die aanval.
“Bedrywighede by die slaghuis is terug na normaal. Die voorval was ’n groot skok vir die personeellede sowel as ons klante. Bykomende veiligheidsmaatreëls sal nou geïmplementeer word om te help voorkom dat so iets weer gebeur,” sê hy.
Die beskuldigdes is op 29 en 30 April in hegtenis geneem. Die polisie het op ’n noodoproep gereageer wat ’n skietery in die woonbuurt Golf View op die dag van die voorval aangemeld het. “Met hul aankoms het beamptes bloedvlekke op die sypaadjie gevind en die liggaam van Marlene op die grond ontdek,” sê Morake.

Die slaghuis waar die egpaar geskiet is. Foto verskaf
“Die egpaar het blykbaar van hul huis na die slaghuis gehaas nadat hulle inligting ontvang het dat hul seun beroof word. Toe hulle by die perseel aankom, het hulle die rowers by die ingang teëgekom.”
Die verdagtes het die slaghuis binnegegaan en die slagoffers gedwing om op die vloer te lê. Hulle het hulle gedreig en aangerand. Klante wat binne die winkel was, is ook beroof.
Die rowers het na bewering verskeie selfone, kontant, ’n skootrekenaar en die sleutels van ’n Ford Ranger gesteel, wat hulle as ’n ontsnappingsvoertuig gebruik het, het kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder, vroeër gesê.
Die voertuig is die volgende dag verlate in die Magogwe-nedersetting naby Mahikeng teruggevind. Van die gesteelde selfone is in ’n nabygeleë veld ontdek,
“Talle items wat met die rooftog verband hou, is sedertdien teruggevind, maar slegs ’n paar van die slagoffers wat tydens die voorval beroof is, het na vore gekom. Slagoffers word aangemoedig om die saak aan te meld deur hul naaste polisiekantoor te kontak.”
Enigiemand met inligting word versoek om die Noordwes-polisie se moord-en-roofeenheid te kontak of kol. Kgosi Dihemo by 082 773 0630. Hulle kan ook hul naaste polisiekantoor in kennis stel, Stop Misdaad by 08600 10111 bel of wenke deurgee op die MySAPS-app.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

