On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
Show Background
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse polisie waarsku teen valse inligting op sosiale media

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:30 Sun, 24 May 2026

Vrystaatse polisie waarsku teen valse inligting op sosiale media | News Article
Polisie waarsku teen valse inligting. Foto: OFM Nuus

Die polisie doen ’n beroep op die publiek om inligting wat op sosiale media geplaas word, te verifieer voordat hulle reageer of dit versprei.

Valse digitale plakkate en pamflette wat sogenaamde gemeenskapsafsluitings aankondig word toenemend op sosialemediaplatforms versprei.  Dit veroorsaak vrees en onsekerheid onder inwoners, sê lt.kol. Thabo Covane, provinsiale polisiewoordvoerder.

Hierdie plasings veroorsaak paniek binne gemeenskappe.“ Dit is hoogs effektiewe instrumente vir waninligting en kan onmiddellike chaos veroorsaak,” sê Covane.

Misdadigers

Dit kan lei tot onnodige sluiting van ondernemings, skole, gesondheidsdienste en openbare vervoer. Mense kan uit vrees ook besluit om eerder tuis te bly. Die polisie waarsku ook misdadigers kan die situasie uitbuit om misdade soos plundering, rooftogte en brandstigting te pleeg. 

“Sommige gefrustreerde gemeenskapslede kan ook reageer deur plakkate en protesaksies te begin of paaie te versper wat onrus kan veroorsaak.” 

Inwoners word aangemoedig om inligting wat op sosiale media versprei word eers deur amptelike kommunikasieplatforms van die polisie, munisipaliteite of erkende gemeenskapstrukture te verifieer.

“Gemeenskapslede kan ook hul naaste polisiekantoor, wyksraadslede, skoolbeheerliggaam of gemeenskapspolisiëringsforums kontak om te bevestig of inligting oor beplande afsluitings of betogings wel wettig is,” sê Covane.

Die polisie sê die publiek moet ook versigtig wees vir plakkate sonder amptelike logo’s, kontakbesonderhede of bevestigde organiseerders want dit is gewoonlik vals of misleidende inligting.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.