On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Sesde verdagte ook vas ná moord op Noordwes-egpaar

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:14 Wed, 27 May 2026

Sesde verdagte ook vas ná moord op Noordwes-egpaar | News Article
Sergio en Marlene Gomes. Foto verskaf

’n Sesde verdagte kom na verwagting Donderdag (28/5) saam met vyf ander voor in verband met die moord op ’n Noordwes-egpaar.

Olebogeng Mmila (28) het Maandag (25/5) in die Mmabatho-landdroshof verskyn vir die moord op Marlene en Sergio Gomes. Mmila is Vrydag in Magogwe by Mahikeng in hegtenis geneem, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder. 

Hy staan tereg op aanklagte van moord en besit van dagga. Smanga Aron Saulo (37), Tebogo Vincent Kolea (31), Gofaone Ronald Sekobe (27), Gaofengwe Sekobe (21) en Clifford Sekobe (34) is ongeveer ’n week ná die moorde in hegtenis geneem. Hulle staan tereg op aanklagte van moord, sakeroof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die Gomes-egpaar, eienaars van die Totobola-slaghuis in Golf View, Mahikeng, is op 24 April tydens ’n rooftog op hul onderneming geskiet. Marlene is op die toneel dood, terwyl Sergio ’n paar uur later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het, het sers. Kelebogile Morake, provinsiale polisiewoordvoerder, vroeër gesê.

Noordwes-slaghuis terug na normaal ná noodlottige skietery | News Article

Die Gomes-egpaar. Foto: Facebook

Die polisie het gereageer op ’n noodoproep wat ’n skietery in die Golf View-woonbuurt op die dag van die voorval aangemeld het. “Met hul aankoms het beamptes bloedvlekke op die sypaadjie gevind en Marlene se liggaam op die grond ontdek,” het Morake gesê.

“Die egpaar het blykbaar van hul huis na die slaghuis gehaas nadat hulle inligting ontvang het dat hul seun beroof word. Toe hulle by die perseel aankom, het hulle die rowers by die ingang teëgekom.”

Na bewering het die verdagtes die slaghuis binnegegaan en die slagoffers gedwing om op die vloer te lê. Klante binne die winkel is ook tydens die voorval beroof.

Die slaghuis waar die egpaar geskiet is. Foto verskaf

Die rowers het na bewering verskeie selfone, kontant, ’n skootrekenaar en die sleutels van ’n Ford Ranger gesteel, wat hulle as ’n ontsnappingsvoertuig gebruik het.

“Die voertuig is die volgende dag teruggevind nadat dit verlate in die Magogwe-nedersetting naby Mahikeng gevind is. Van die gesteelde selfone is later in ’n nabygeleë veld ontdek,” sê Mybrugh.

’n Werknemer van die slaghuis het twee weke ná die voorval aan OFM Nuus gesê bedrywighede by die slaghuis is terug na normaal. “Die voorval was ’n groot skok vir beide personeel en ons klante. Bykomende veiligheidsmaatreëls sal getref word om te help voorkom dat so iets weer gebeur.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.