Central SA
Noord-Kapenaar verskyn vir bedrog van R300 000 by skool─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:40 Thu, 28 May 2026
’n Noord-Kaapse vrou kom weer binnekort voor nadat sy die skool waar sy gewerk het, na bewering uit derduisende rande bedrieg het.
Masechaba Gloria Gopane (36) moet weer op 8 Junie voorkom in Jan Kempdorp se landdroshof op aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery. Sy het Woensdag vir die eerste keer verskyn.
Gopane is op borgtog van R1 000 vrygelaat, sê lt.kol. Tebogo Thebe, provinsiale polisiewoordvoerder, nadat die Kimberleyse ondersoekspan na ernstige handelsmisdaad haar Dinsdag (26/5) op De Aar in hegtenis geneem het.
Terwyl sy in 2024 as ’n finansiële administrateur by die Laerskool Jan Kempdorp gewerk het, was sy verantwoordelik vir betalings aan die skool se krediteure, insluitend die Phokwane-munisipaliteit vir water en munisipale tariewe, vertel Thebe.
“Die bedrog is tydens ’n oudit ontdek toe die skool se rekeningkundige beampte onreëlmatighede opgemerk het en die munisipaliteit genader het rakende ’n buitengewoon hoë rekeningsaldo.”

Amy Mellisa van Heerden. Foto verskaf
Nadere ondersoek het aan die lig gebring die munisipaliteit se bankbesonderhede is verander en vervang deur die beskuldigde se persoonlike bankinligting. Dit het die skool en die munisipaliteit ’n verlies van R300 000 laat ly, sê Thebe. Die saak sal na verwagting na die streekhof oorgeplaas word.
Intussen keer nog ’n Noord-Kapenaar na verwagting terug na die hof nadat sy na bewering betalings na haar eie bankrekening herlei het wat vir haar werkgewer bestem was.
Amy Mellisa van Heerden (30) sal na verwagting weer op 5 Junie in die Kathu-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, geldwassery en diefstal. Sy is op 26 Februarie deur die Valke se ernstige handelsmisdaadeenheid in hegtenis geneem.
Van Heerden het na bewering vir Nashua Kathu gewerk en sonder magtiging haar werkgewer se bankbesonderhede verander om haar eie persoonlike bankrekening te weerspieël, sê Thebe.
“Nashua het verliese van meer as R1 miljoen gely nadat fondse wat aan die maatskappy verskuldig is, na bewering in haar rekening inbetaal is,” het Thebe gesê.
Van Heerden het ’n dag na haar inhegtenisneming in die hof verskyn en is op borgtog van R10 000 vrygelaat.
Die saak sal na verwagting ook na die streekhof oorgeplaas word.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

