On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Twee senior Noord-Kaapse munisipale amptenare vas vir bedrog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:37 Fri, 29 May 2026

Twee senior Noord-Kaapse munisipale amptenare vas vir bedrog | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Doelgerigte optrede teen korrupsie in die Noord-Kaap het gelei tot die inhegtenisneming van twee senior munisipale amptenare.

Synthia Levona Itumeleng (45), die munisipale bestuurder van Ubuntu-munisipaliteit op Victoria-Wes, en Randile Jacobs Shuping word verdink van wangedrag met betrekking tot pensioenfondsbetalings. Dit duur glo al etlike jare.

Hulle is Donderdag (28/5) deur die ondersoekspan na ernstige misdaad van Kimberley in hegtenis geneem. Die twee staan tereg op 28 aanklagte van oortreding van Artikel 13A van die Pensioenfondswet 24 van 1956, sê lt. kol. Tebogo Thebe, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die saak wentel om die beweerde terughouding en vertraging van werknemersbydraes, wat gelei het tot beduidende finansiële tekorte en opgehoopte rente.

Die twee amptenare het na bewering tussen Februarie 2020 en September verlede jaar, terwyl hulle hul pligte uitgevoer het, versuim om munisipale werkers se pensioenbydraes aan derde partye, waaronder die pensioenfonds, oor te betaal of het dit uitgestel.

“Die vertragings het gelei tot opgehoopte rente, wat na bewering nooit vereffen is nie, ten spyte van herhaalde betalingsaanmanings,” sê Thebe.

Die munisipaliteit het na bewering skuld van meer as R200 000 aangegaan, wat later verminder is tot net minder as R100 000 aan uitstaande pensioenfondsbydraes, in stryd met die Pensioenfondswet.

Vrou verskyn in Kathu-hof oor sakebedrog | News Article

Amy Mellisa van Heerden. Foto verskaf

Die beskuldigdes het op die dag van hul inhegtenisneming vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn. Itumeleng het borgtog van R5 000 gekry en Shuping van R10 000. Die saak is uitgestel tot 29 Junie.

Intussen keer nog ’n Noord-Kapenaar na verwagting terug na die hof nadat sy na bewering betalings na haar eie bankrekening herlei het wat vir haar werkgewer bestem was.

Amy Mellisa van Heerden (30) sal na verwagting weer op Vrydag (5/6) in die Kathu-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, geldwassery en diefstal. Sy is op 26 Februarie deur die Valke se ernstige handelsmisdaadeenheid in hegtenis geneem.

Verliese van meer as R 1 miljoen

Van Heerden het na bewering vir Nashua Kathu gewerk en sonder magtiging haar werkgewer se bankbesonderhede verander om haar eie persoonlike bankrekening te weerspieël, sê Thebe.

“Nashua het verliese van meer as R1 miljoen gely nadat fondse wat aan die maatskappy verskuldig is, na bewering in haar rekening inbetaal is,” het Thebe gesê. Van Heerden het ’n dag na haar inhegtenisneming in die hof verskyn en is op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Die saak sal na verwagting ook na die streekhof oorgeplaas word.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.