Central SA
Boere maak self paaie reg op Bothaville─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:52 Sat, 30 May 2026
’n Vrystaatse munisipaliteit moet vrae beantwoord oor die instandhouding van paaie, sy begroting en gebeurlikheidsplanne weens ernstige kommer oor die verslegtende toestand van sy paaie.
Die DA vra vir duidelikheid en verantwoordbaarheid van die Nala-munisipaliteit oor die toestand van paaie in en om Bothaville. Dit word daagliks gebruik om oeste na silo’s te vervoer, sê Thinus Barnard, DA-raadslid.
Klagtes is ontvang van inwoners, boere en ander belanghebbendes ná die onlangse NAMPO Oesdag wat van 12 tot 15 Mei plaasgevind het. Daar was aansienlik meer verkeer wat ekstra druk op die reeds swak infrastruktuur geplaas het.
Barnard sê boere in die Bothaville-gebied is die afgelope week gedwing om in te gryp om ’n belangrike plaaspad te herstel. Hulle moes hul eie diesel, arbeid en toerusting gebruik. “Dit kos die boere duisende rande.”
Sommige boere wat slegs 8 km tot 10 km van die silo’s bly is na bewering gedwing om ongeveer 40 km vir meer as twee jaar te reis weens die swak toestand van die paaie en die gebrek aan behoorlike onderhoud.
Die hooftoegangspaaie en strate op Bothaville het baie agteruitgegaan weens verskeie slaggate, swak padoppervlak en beskadigde padinfrastruktuur. “Bestuurders word gereeld gedwing om in die middel van die pad of langs die kante daarvan te ry om voertuigskade te vermy,” sê Barnard.

Bothaville se boere herstel paaie ná NAMPO. Foto verskaf
Die huidige toestand van die padnetwerk verhoog die risiko van ongelukke, botsings en verkeersopeenhopings as daar baie verkeer is. Ter voorbereiding vir NAMPO het die munisipaliteit probeer om sommige van die slaggate met gruis, sand en klippe op te vul. Dit is egter nie ideaal of ’n volhoubare oplossing nie.
Dit word maklik deur reën weggespoel en beland in stormwaterkanale wat verstoppings veroorsaak en bykomende uitdagings skep. Bothaville is ’n belangrike mielieproduserende dorp en die trotse gasheer van NAMPO. Die swak toestand van sy paaie het ’n negatiewe invloed op besoekers, benadeel die dorp se reputasie en plaas ekstra druk op plaaslike ondernemings.
Daar is toenemende kommer die situasie sal vereger as daar nie dringende ingryping plaasvind nie.
Die DA sê die huidige toestand van paaie op Bothaville vereis onmiddellike aandag om openbare veiligheid te verseker, die plaaslike ekonomie te beskerm, landbouaktiwiteite te ondersteun en beleggersvertroue in die dorp en omliggende streek te handhaaf.
Die party doen ’n beroep op die munisipaliteit om teen 12 Junie te reageer met ’n plan vir sy begroting en die tydraamwerk vir die herstel en rehabilitasie van die betrokke paaie.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

