Central SA
Beskuldigdes bly in aanhouding ná moord op Noordwes-egpaar─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:31 Sat, 30 May 2026
Die ses beskuldigdes wat daarvan aangekla word dat hulle ’n Noordwes-egpaar vermoor het, sal nog langer agter tralies bly nadat hul borgtogaansoek uitgestel is.
Olebogeng Mmila (28), Smanga Aron Saulo (37), Tebogo Vincent Kolea (31), Gofaone Ronald Sekobe (27), Gaofengwe Sekobe (21) en Clifford Sekobe (34) het Donderdag (28/5) in die Mmabatho-landdroshof verskyn vir die moord op Marlene en Sergio Gomes.
Die saak is uitgestel tot Donderdag (5/6) vir 'n formele borgtogaansoek, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.
Aanklagte
Olebogeng Mmila is Vrydag (22/5), byna ’n maand ná die moorde in Magogwe naby Mahikeng in hegtenis geneem. Hy staan tereg op aanklagte van moord en die besit van dagga.
Die ander vyf is byna ’n week ná die moorde in hegtenis geneem. Hulle word aangekla van moord, sakeroof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Marlene en Sergio Gomes. Foto verskaf
Die Gomes-egpaar, eienaars van die Totobola-slaghuis in Golf View, Mahikeng, is op 24 April tydens ’n rooftog op hul onderneming geskiet. Marlene is op die toneel dood, terwyl Sergio ’n paar uur later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het, het sers. Kelebogile Morake, provinsiale polisiewoordvoerder, vroeër gesê.
Die polisie het gereageer op ’n noodoproep wat die skietery in die Golf View-woonbuurt aangemeld het. “Met hul aankoms het beamptes bloedvlekke op die sypaadjie gevind en Marlene se liggaam op die grond gekry,” sê Morake.
“Die egpaar het blykbaar van hul huis na die slaghuis gejaag nadat hulle inligting ontvang het dat hul seun beroof word. Toe hulle by die perseel aankom, het hulle die rowers by die ingang teëgekom.”

Die slaghuis waar die egpaar geskiet is. Foto verskaf
Na bewering het die verdagtes die slaghuis binnegegaan en die slagoffers gedwing om op die vloer te lê. Klante binne die winkel is ook tydens die voorval beroof.
Die rowers het selfone, kontant, ’n skootrekenaar en die sleutels van ’n Ford Ranger gesteel. Hulle het dit as ’n ontsnappingsvoertuig gebruik.
“Die voertuig is die volgende dag verlate in die Magogwe-nedersetting naby Mahikeng gevind. Van die gesteelde selfone is later in ’n nabygeleë veld ontdek,” sê Myburgh.
’n Werknemer van die slaghuis het twee weke ná die voorval aan OFM Nuus gesê bedrywighede by die slaghuis is terug na normaal.
“Die voorval was ’n groot skok vir die personeel en ons klante. Bykomende veiligheidsmaatreëls sal getref word om te help voorkom dat so iets weer gebeur.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

