Central SA
Kommer oor vals video van landwye protes─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:48 Sat, 30 May 2026
Die polisie waarsku teen ’n vals video wat die ronde op sosiale media doen oor ’n beweerde landwye protesaksie.
Die Gautengse polisie het met kommer kennis geneem van die video wat versprei word. In die video is lt.genl. Puleng Dimpane, waarnemende nasionale kommissaris, wat glo misleidende inligting gee waarin beweer word dat die beplande landwye protes op 30 Junie onwettig verklaar is, sê brig. Athlenda Mathe, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Ons wil dit onomwonde stel dat die video vals nuus is en geensins die standpunte of amptelike posisie van Dimpane of die organisasie verteenwoordig nie.”

Die polisie veroordeel ten sterkste die persoon wat verantwoordelik is vir die skep en verspreiding van gemanipuleerde en vals inhoud wat daarop gemik is om gemeenskappe te mislei en die geloofwaardigheid van die waarnemende nasionale kommissaris te ondermyn.
“Dimpane respekteer ten volle elke persoon se grondwetlike reg om te protesteer, te betoog en hulself vrylik uit te druk, mits sodanige optrede vreedsaam geskied en binne die raamwerk van die wet plaasvind,” sê Mathe.
Die polisie bly daartoe verbind om alle wettige byeenkomste en protesaksies op ’n wyse te polisieer wat openbare orde handhaaf en die regte van alle burgers beskerm.
Inwoners word aangemoedig om inligting wat op sosiale media versprei word eers deur amptelike kommunikasieplatforms van die polisie, munisipaliteite of erkende gemeenskapstrukture te verifieer.
“Gemeenskapslede kan ook hul naaste polisiekantoor, wyksraadslede, skoolbeheerliggaam of gemeenskapspolisiëringsforums kontak om te bevestig of inligting oor beplande afsluitings of betogings wel wettig is,” sê Mathe.
Die publiek moet ook versigtig wees vir plakkate sonder amptelike logo’s, kontakbesonderhede of bevestigde organiseerders want dit is gewoonlik vals of misleidende inligting.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

