Central SA
Vrystaatse polisie ondersoek noodlottige skietvoorval van Krugersdorp-meisie tydens jagtog─── ZENANDE MPAME 15:30 Mon, 01 Jun 2026
’n Man sou Maandag (6/1) in die landdroshof op Ficksburg voorkom nadat ’n kind tydens ’n jagtog op die plaas Franshoek per ongeluk doodgeskiet is.
Die Vrystaatse polisie ondersoek ’n saak van moord ná die noodlottige skietvoorval waarin ’n twaalfjarige van Krugersdorp haar lewe verloor het. Beamptes het beslag gelê op alle vuurwapens wat aan die verdagte behoort vir verdere forensiese en ballistiese toetse as deel van die voortgesette ondersoek.
Die verdagte is Maandag (1/6) in hegtenis geneem nadat hy en die meisie se pa Vrydagoggend (29/5) op die plaas gejag het. Die man het na bewering ’n skoot afgevuur en die kind noodlottig gewond. Die meisie is na ’n plaaslike hospitaal gehaas vir mediese behandeling, maar is met haar aankoms dood verklaar.
“Die voorval is deur hospitaalpersoneel by die polisie aangemeld,” sê Vrystaatse polisiewoordvoerder Mmako Mophiring. “ 'n Moordsaak is daarna geopen. Die polisie se ondersoek na die omstandighede rondom die skietvoorval duur voort.”
Intussen ondersoek Bethlehem se polisie die omstandighede rondom die dood van nog ’n twaaljarige, wat Donderdag by Jibalus Salaam in die bergagtige Fouriesburg-omgewing doodgeskiet is.
Amatullah Mungur is na bewering deur ’n dwaalkoeël getref en dood tydens ’n Eid al-Adha-qurbani-voorval (dag van opoffering). Volgens The Citizen het chaos losgebars toe ’n bul wat vir die offer bestem was, uit ’n vragmotor ontsnap het.
Ground Zero Search and Rescue sê die dier het deur die skare gestorm, wat paniek veroorsaak het. Oud en jonk het in alle rigtings laat spat. Terwyl werkers probeer het om die dier van kant te maak is dit met ’n geweer geskiet, maar sonder sukses.
Die bestuurder het na bewering toe ’n vuurwapen uitgehaal en verskeie skote afgevuur. Een van die skote het glo die meisie in haar gesin se voertuig getref. Nooddienspersoneel het na die toneel gehaas, maar die kind het aan haar beserings beswyk en is dood verklaar.
Die bestuur van Jibalus Salaam is diep bedroef deur die voorval en die verlies van ’n jong lewe. Hulle vra die publiek moenie bespiegel oor die omstandighede van haar dood terwyl die ondersoek voortduur nie.
“Ons is diep bedroef oor die tragiese verlies van ’n jong meisie se lewe ná ’n voorval wat op ons perseel plaasgevind het,” lui ’n verklaring.
“Ons werk ten volle saam met die owerheid en sal alle hulp, inligting en ondersteuning bied wat nodig is om ’n deeglike en onpartydige ondersoek moontlik te maak.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

