Central SA
Oud Goudveldse polisiekaptein se borgtogaansoek hervat─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:00 Tue, 02 Jun 2026
Die voormalige polisieman se borgtogaansoek word Dinsdag (2/6) hervat nadat die verrigtinge vertraag is weens ’n onbekende dokument wat vroeër aan die hof voorgelê is.
Daniel Fourie (60) het Dinsdag (26/5) in die hof verskyn waar sy borgtogaansoek uitgestel is nadat hy tydens kruisondervraging na ’n onbekende dokument verwys het. Hy beweer die dokument kan ’n geldige rede wees vir sy borgtog om toegestaan te word.
Ten spyte daarvan dat die saak ses jaar lank voor die howe was, is die dokument egter nog nooit voorheen aan die hof voorgelê nie.
Fourie en sy vrou, Anna Francina (55), is op 7 April skuldig bevind aan meer as ’n duisend aanklagte van intimidasie en crimen injuria na ’n langdurige dispuut met die broers, Manny en José Jardim. Sedert die skuldigbevinding is Fourie in aanhouding op Odendaalsrus.

Daniel Fourie Vrydag in die hof. Foto’s: Charne van der Merwe
Anna is deur die hof op waarskuwing vrygelaat nadat bykomende tyd versoek is om reëlings te tref vir die egpaar se gestremde seun (34). Vonnisoplegging in die saak was aanvanklik vir 8 Junie geskeduleer.
Tydens die borgtogverrigtinge het dit aan die lig gekom die betrokke dokument is blykbaar deur die hooggeregshof in Bloemfontein uitgereik. Fourie het getuig die dokument bevestig dat hy die enigste persoon is wat wettig gemagtig is om die finansiële sake van sy gestremde kind te bestuur.
Adv. Allen Simpson, staatsaanklaer, het egter die belangrikheid van die dokument bevraagteken en kommer uitgespreek oor die inhoud daarvan.
Hy het gevra waarom Fourie die hooggeregshof sou moes nader vir magtiging om fondse te administreer wat hy na bewering self aan sy seun verskaf het. Die egtheid van die dokument is ook deur die vervolging betwis.

Die Jardim-broers is in hierdie graffiti geteiken. Foto verskaf
Sedert die skuldigbevinding het die gesin se huislike omstandighede na bewering ál moeiliker geword. Anna is nou alleen verantwoordelik vir die versorging van hul gestremde kind.
“Die kind kan loop, maar hy kan nie homself aantrek, eet of die badkamer gebruik sonder hulp nie, en hy ly ook aan epilepsie,” het Fourie getuig.
Hul dogter moes haar studie vir eers staak om haar ma te help met die versorging van haar broer en om verantwoordelikhede by die huis te bestuur, het hy getuig. Informele reëlings is glo getref sodat sy eendag haar studie kan hervat.
Hulle is na bewering ook onder ernstige finansiële druk nadat Fourie sy werk in 2019 verloor het. Gevra oor wie na die kind omgesien het terwyl hy gewerk het, het Fourie gesê dat hy vier dae aan, en vier dae af gewerk het.
Dit is egter onduidelik wie hul kind versorg het toe albei gewerk het.
Fourie het getuig die gesin kon nie ’n gekwalifiseerde versorger vir hul seun bekostig nie. “Die kind moet vertroud wees met sy versorger, en die versorger met sy roetines, aangesien dit moeilik is vir ’n vreemdeling om sy spesifieke behoeftes en gedragspatrone te bestuur.”
Hy het aangevoer die plaas wat hy bedryf, is in die naam van die seun geregistreer. Hy het glo aangehou om die eiendom te bestuur en te bewerk omdat die kind nie vir homself kon sorg of toesig oor die plaas se bedrywighede hou nie.
Getuies
Terwyl hy in aanhouding was, is diere na bewering op die plaas gesteel, wat hy as nog ’n probleem genoem het wat die gesin tydens sy afwesigheid ervaar het.
Fourie ontken skuld aan al die oortredings. Hy het meermale gesê hy beplan om ná vonnisoplegging te appelleer. Die staat het blykbaar nie ’n sterk saak teen hom nie, het hy gesê, en het getuies gekritiseer wat tydens die verhoor geroep is.
Anna en kol. Ben Strydom, ondersoekbeampte, sal na verwagting Dinsdag as getuiens geroep word.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Belof whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

