Central SA
Jong Vrystaatse karateka op pad na Mauritius─── CHARNÉ VAN DER MERWE 18:05 Tue, 02 Jun 2026
Wanneer ’n Vrystaatse tiener in September Mauritius toe gaan, sal dit nie vir ’n vakansie op die eiland se bekende strande wees nie, maar om sy land op die internasionale karate-verhoog te verteenwoordig.
Stian Lindhout (15) is gekies om Suid-Afrika op die Pacific Cup-karatekampioenskappe van 20 tot 28 September te verteenwoordig. Dit is die grootse mylpaal nog van sy karateloopbaan.
Die karatetalent loop egter in die Lindhout-familie. Sy ma het self die sport beoefen en het sy belangstelling daarin aangewakker. Wat op negejarige ouderdom as blote nuuskierigheid begin het, het vinnig ontwikkel tot ’n passie wat vandag ’n groot deel van sy lewe vorm.
Vandag oefen Stian ongeveer vyf uur per week terwyl hy skoolverpligtinge balanseer, tallose ure bestee om tegnieke te verfyn, kata-roetines te vervolmaak en vegstrategieë te ontwikkel. Sy toewyding het hom erkenning op nasionale én internasionale vlak besorg.

Stian se eerste gradering in September 2020. Foto verskaf
Onder sy prestasies is ’n goue medalje in beginnerkata en twee bronsmedaljes in die Afrika-beker in 2025, waar deelnemers van nege lande deelgeneem het. Vroeër vanjaar het hy ’n bronsmedalje in vrygeveg op Karate Suid-Afrika (KSA) se nasionale kampioenskappe verower, waar hy gekies is om vir die KSA nasionale span in Angola mee te ding.
Sy mees onlangse sukses was op die Japan Karate Association (JKA) nasionale kampioenskappe in Mei. “Ek het vierde geëindig onder 32 deelnemers in die kata swart- en bruinbelt-afdeling en silwer in die Elite vrygeveg swart- en bruinbelt-afdeling,” vertel Stian.
Hierdie uitstlae het sy plek in die Suid-Afrikaanse span verseker wat na Mauritius reis.
Stian se eerste JKA SA-kampioenskap in Mei 2022. Foto verskaf
“Dis ’n oomblik wat ek nooit sal vergeet nie. Ek was baie opgewonde en het geweet my harde werk het vrugte afgewerp.”
Om Suid-Afrika op ’n internasionale verhoog te verteenwoordig is iets wat hy nie ligtelik opneem nie. Hy beskou dit nou as een van sy trotsste prestasies om vir die derde keer die nasionale span te haal, veral omdat Mauritius sy eerste geleentheid sal wees om internasionaal mee te ding.
"Dit beteken soveel vir my om hierdie pragtige land te verteenwoordig en die groen en goud te dra."

Stian met van sy medaljes wat hy al gewen het. Foto verskaf
Sy reis was nie altyd maklik nie. Een van die grootste teleurstellings van sy karateloopbaan het gekom tydens sy eerste nasionale kampioenskappe toe hy nie daarin geslaag het om ’n medalje te wen ten spyte van maande se voorbereiding nie.
"Ek het gevoel al my harde werk was verniet. Ek het wel nie dat dit my terugsit (nie) en dit as motivering gebruik.”
Agter elke suksesvolle atleet is daar ’n sterk ondersteuningstelsel en sy familie het ’n groot rol gespeel om hom te ondersteun. “My ma het die grootste invloed op my karaterreis en het my voortdurend aangemoedig om te verbeter en te werk om my swartgordel te verwerf. “

Stian het op nege met karate begin. Foto verskaf
Karate het hom ook lesse geleer soos om kalm te bly in moeilike situasies en om altyd gedissiplineerd te wees.
Terwyl hy voorberei om van die beste karatekas van oor die Stille Oseaan-streek teë te kom, bly Stian gefokus op sy beste prestasie eerder as om alleen medaljes na te jaag.
"Sukses gaan nie altyd oor die medaljes nie. Dit gaan daaroor om te weet jy het jou beste gedoen. Enigiets is moontlik. Reik na die sterre, want hulle is nie te ver nie."
Stian se deelname aan die kampioenskappe gaan gepaard met aansienlike reis- en kompetisiekoste. ’n Fondsinsamelingsveldtog is begin om uitgawes te dek wat verband hou met vlugte, verblyf, registrasie en spanvereistes terwyl hy voorberei om met trots die Vrystaat én Suid-Afrika op die internasionale verhoog te verteenwoordig.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

