Central SA
Welkom-verdagte in baksteenmoord op bejaarde laat vaar borgaansoek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:00 Fri, 05 Jun 2026
’n Vrystater het Donderdag (4/6) sy aansoek om borgtog laat vaar en aan die hof gesê hy doen dit omdat hy weet wat hy gedoen het.
André van den Berg (49) het sy tweede verskyning in die Welkom-landdroshof gemaak. Hy staan tereg op aanklagte van moord en huisroof ná die dood van Piet Hendriks (81).
Van den Berg het Hendriks glo met ’n baksteen doodgeslaan oor geld wat aan hom verskuldig was. ’n Ingeligte bron het buite die hof aan OFM Nuus gesê die bejaarde man het glo ook verskeie steekwonde aan sy liggaam gehad. “Hy was verniel. Erg aangerand.”
Van den Berg is op die dag van die voorval, 23 Mei, in Humewood, Gqeberha, in hegtenis geneem nadat hy na bewering van die toneel gevlug het.
Geld verskuldig
Hy het glo stukwerk vir Hendriks by sy huis gedoen, maar Hendriks het hom nie die volle bedrag betaal wat verskuldig was nie. Hendriks het glo slegs R7 000 betaal, terwyl hy na bewering nog byna R13 000 aan Van den Berg geskuld het.
’n Rusie het tussen die twee mans ontstaan, en Van den Berg beweer Hendriks het hom eerste geslaan. Hy het glo ’n baksteen gesien, dit opgetel en die bejaarde man daarmee geslaan.
Die beskuldigde het met die slagoffer se voertuig van die toneel gevlug en net buite Theunissen, sowat 60 km van Welkom, besef wat hy gedoen het. “Van den Berg het besef hy was reeds op pad en het besluit om net aan te hou ry,” sê die bron.
Die voertuig is Saterdag met behulp van ’n voertuigopsporingstelsel in Humewood opgespoor. “Die inligting is met die polisie gedeel, waarna beslag op die voertuig gelê is en die verdagte in hegtenis geneem is,” sê sers. Palesa Thabana, provinsiale polisiewoordvoerder.
Hendriks se liggaam is in die kombuis van sy huis in die Doorn-woonbuurt ontdek. “Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat ’n Mazda 3 en ’n televisiestel gesteel is, wat daartoe gelei het dat sake van moord en huisroof oopgemaak is,” sê Thabana.
Die saak is uitgestel tot 6 Julie.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

