On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Ashmund
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Welkom-moord: Prokureur se eksvrou Vrydag gevonnis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 20:11 Thu, 04 Jun 2026

Welkom-moord: Prokureur se eksvrou Vrydag gevonnis | News Article
Linda van den Heever. Foto: Charne van der Merwe

Die Welkomse prokureursvrou wat skuldig bevind is aan sy moord hoor Vrydag haar lot.

Linda van den Heever (64) sal Vrydag (5/6) in die rondgaande hooggeregshof in Welkom haar vonnis aanhoor wanneer uitspraak gelewer word ná ’n byna vyf jaar lange hofproses. Sy is op 22 Desember skuldig bevind aan die moord op haar voormalige eggenoot, André (64).

Van den Heever sal na verwagting getuies ter versagting aanbied. André is op 14 Desember 2021 in hul huis in Welkom doodgeskiet. Die voormalige egpaar, albei aan ander verhoudings verbind, het in aparte kamers gewoon. André, ’n prokureur, het sy praktyk vanaf dieselfde eiendom bedryf.

Tydens die hofverrigtinge op 19 November het die staat en verdediging hul betoë gelewer. Die staat voer aan sy was ten volle bewus van haar optrede, het die moord beplan en moet aanspreeklik gehou word. Die verdediging ontken dit en sê haar skuld is nie bo redelike twyfel bewys nie, en voer aan dat sy uit selfverdediging opgetree het.

Die saak was vir vyf dae op die rol geplaas sodat Van den Heever kon getuig, maar haar regspan het daarteen besluit.

Adv. Ena Liebenberg, vir die staat, het die besonderhede van die gebeure voor en ná die skietery uiteengesit. Sy beskryf die verhouding as onstabiel, met gereelde konflik en spanning. Albei het beserings opgedoen in ’n woordewisseling op die oggend van die skietery. 

Kort daarna het André in sy kantoor gesit toe hy doodgeskiet is. Volgens die staat het Van den Heever hom doelbewus geskiet, daarna gaan bad, skoon klere aangetrek en die toneel verlaat.

Ná die skietery het Van den Heever na haar destydse kêrel, Kiewiet van der Westhuizen, in Hennenman gery. Hy het die polisie gebel en sy is later in hegtenis geneem. 

Die wapen, ’n .38-rewolwer, is in haar handsak gevind. Ballistiese bewyse koppel die koeël in André se skedel direk aan haar vuurwapen. Die staat voer aan die bewaringsketting is nie geskend nie.

André van den Heever. Foto: Facebook/Christopher van den Heever

Volgens Liebenberg bewys haar optrede ná die skietery – bestuur, kommunikasie en hantering van die wapen – dat sy ten volle aanspreeklik was en nie onder enige vorm van geestesversteuring opgetree het nie.

Adv. Allen Simpson voer aan die staat steun uitsluitlik op omstandigheidsgetuienis. Daar is geen ooggetuie of direkte bewyse wat haar op daardie oomblik met die wapen verbind nie, sê hy.

Hy wys op leemtes in die bewaringsketting, teenstrydighede in getuienis én onreëlmatighede op die toneel: vuurwapens wat vermis en later gevind is, die verskuiwing van die liggaam, ’n patroon wat nie verantwoord is nie en geen skootresidu-toetsing nie, hoewel die beskuldigde daarvoor beskikbaar was.

Welkom-moord: Prokureur se eksvrou hoor kort voor Kersfees haar lot | News Article

Linda van den Heever in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Die verdediging hou vol dat haar beserings, vorige gedokumenteerde geweld en kommunikasie tussen die paartjie steun dat sy uit selfverdediging opgetree het.

Die staat sê selfs ’n kort tydperk van rasionele besluitneming is genoeg om voorbedagte rade te bewys. Die verdediging sê die bewyse laat redelike twyfel, en dat vryspraak die enigste regverdige uitkoms is.

Juan Adendorf is die opdraggewende prokureur.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.