Central SA
Van Suid-Afrika na Denemarke – nou help hy Deense kinders met hul eie taal─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:02 Tue, 09 Jun 2026
Min mense kan sê hulle het ’n vreemde taal só goed baasgeraak dat hulle later die mense van daardie land help om dit beter te lees en verstaan.
’n Suid-Afrikaanse tiener wat in 2021 nie ’n woord Deens kon praat nie, onderrig vandag ander kinders in dié taal wat eens vir hom vreemd was. Philip Ewan Vogel (13) het in Augustus 2021 saam met sy ouers, Elmo en Angelique, na Kopenhagen op die eiland Amager in Denemarke geëmigreer.
Hoewel hy destyds nog jonk was, onthou hy die dag nog goed. “Wat ek die meeste onthou, is hoe ons al die groot tasse in die huurkar gelaai het en lughawe toe gery het. Dit was ook die eerste keer dat ek deur paspoortbeheer gegaan het toe ons uit Suid-Afrika gevlieg het,” vertel hy.
Die skuif na ’n nuwe land het egter veel meer beteken as net ’n ander adres. Skielik moes hy aanpas by ’n nuwe taal, nuwe kultuur en nuwe manier van leef.

Ewan en sy ma, Angelique. Foto verskaf
En van die grootste aanpassing was die sosiale kant – veral met die kinders by die skool. “Baie van die dinge wat hulle gedoen het, was anders as waaraan ek gewoond was, soos die reëls van speletjies, die manier waarop hulle sport beoefen het en baie ander alledaagse dinge.”
Nog ’n groot verskil was die manier waarop sport in Denemarke werk. Anders as in Suid-Afrika, waar skoolsport ’n groot deel van die meeste kinders se lewe vorm, word sport daar hoofsaaklik ná skool deur privaat klubs aangebied. “Ons het geen sport by die skole nie. Al die sport wat hulle beoefen, is privaat by klubs ná skool.”
Omdat hy so jonk was toe hulle verhuis het, het hy relatief vinnig begin aanpas. Volgens hom het dit selfs daartoe gelei dat hy Deense denkwyses en gewoontes aanvaar het.
“Ek dink ek het op ’n manier meer Deens begin leer en die Deense manier van doen eerder as die Suid-Afrikaanse manier aangeneem, omdat ek so jonk was toe ons verhuis het.”
Vandag praat Ewan Deens so vlot dat hy ander kinders met hul leeswerk help. Dit is iets wat ’n paar jaar gelede ondenkbaar sou gewees het.
Die geleentheid het sowat twee jaar gelede gekom toe ’n ma op Facebook hulp gesoek het vir haar kind wat gesukkel het om Deens te lees. “My ma het aangebied dat ek kan help. Ek het die kind toe vir ’n paar maande gehelp en ’n bietjie sakgeld daarvoor gekry. “

Ewan bly al amper vyf jaar oorsee. Foto verskaf
Sedertdien het hy ook jonger kinders by sy skool gehelp, en ’n paar maande gelede weer begin om ’n kind met leesondersteuning by te staan.
Wanneer Deense kinders hoor dat ’n Suid-Afrikaner hulle help met hul eie taal, is hulle redelik verras. “Hulle is aanvanklik baie verbaas dat ek die taal beter as baie van hulle kan praat. Hulle vind dit nog meer verrassend dat ek hulle daarmee help en dit vir hulle leer.”
Hy het die taal wat aanvanklik vreemd en onbekend was, vinnig aangeleer en binne vier maande het hy dit met selfvertroue gepraat.

Ewan is 'n kranige gholfspeler. Foto verskaf
Volgens hom het sy ouers eers besef hoe goed hy die taal baasgeraak het toe hulle hom een aand in sy slaap Deens hoor praat het.
Benewens Afrikaans en Engels praat Ewan ook ’n bietjie Duits en Frans, wat hy op skool geleer het.
Hoewel hy vandag goed aangepas is, erken Ewan dat die beginjare soms moeilik was. “Ek kon nie altyd verstaan hoe die Deense kinders by die skool funksioneer of hoe hulle ná skool met mekaar speel nie. Ek het gesukkel om in en aan te pas.

Ewan by sy ouers, Elmo en Angelique. Foto verskaf
Hy meen baie mense onderskat hoe uitdagend dit vir jong kinders kan wees om na ’n ander land te verhuis.
“Ek dink baie mense neem aan dat dit basies dieselfde is as die land vanwaar jy kom en dat dit maklik is om te verander, nuwe gewoontes aan te leer en in te pas. Maar dit is nie so eenvoudig nie. Om by ’n nuwe kultuur, taal en leefwyse aan te pas, kan baie uitdagend wees.”
Ten spyte van die jare wat hy reeds in Europa woon, beskryf Ewan homself steeds as ’n Suid-Afrikaner. “Ek voel nog steeds baie Suid-Afrikaans, want ek het beslis baie van my Suid-Afrikaanse gewoontes behou. Ek mis vriende en familie in Suid-Afrika. En natuurlik ook biltong en droëwors.”
Sy nuwe tuiste bied egter ook baie voordele, veral die veiligheid en die geleenthede wat vir jong mense beskikbaar is.
“Ek geniet die veiligheid hier baie – om self rond te kan loop na sport toe, fiets te ry, van die skool af huis toe te gaan en winkels toe te gaan. Hier is ook geleenthede soos dat jy gratis kan studeer en selfs ’n studietoelaag van die staat kan ontvang terwyl jy studeer.”
Vir enige jong mens wat voor die uitdaging staan om na ’n ander land te verhuis, is Ewan se raad om so vinnig as moontlik by jou nuwe omgewing aan te pas. “Om vriende te maak, maak dit ook makliker.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

