On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Ouers moet uitkyk vir hierdie virus gedurende wintermaande

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:33 Wed, 10 Jun 2026

Ouers moet uitkyk vir hierdie virus gedurende wintermaande | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Respiratoriese sinsitiale virus (RSV) en brongiolitis is jaarliks van die grootste gesondheidsuitdagings in pediatriese sale dwarsoor Suid-Afrika, veral gedurende die kouer maande wanneer respiratoriese infeksies toeneem.

RSV is die mees algemene oorsaak van brongiolitis – ’n infeksie van die klein lugweë in die longe wat hoofsaaklik babas en kinders jonger as twee raak. Ander virusse, soos rhinovirus en para-influensa-virus, kan ook brongiolitis veroorsaak, maar RSV bly die grootste sondebok.

Die virus raak veral jong babas en dit kan vinnig van ligte verkouesimptome in ernstiger asemhalingsprobleme ontwikkel, sê dr. Chantelle van der Bijl, ’n Bloemfonteinse geneesheer.

“RSV begin dikwels soos ’n gewone verkoue met ’n loopneus, hoes en koors, maar kan in sommige gevalle lei tot ernstige asemhalingsnood wat hospitalisasie vereis,” verduidelik sy.

Die virus is verantwoordelik vir die meeste gevalle van brongiolitis en speel ’n groot rol in pediatriese hospitaalopnames tydens die RSV-seisoen.

RSV-uitbrekings volg ’n duidelike seisoenale patroon. In Suid-Afrika word die meeste gevalle tussen die laatsomer en vroeë winter aangemeld, met die hoogtepunt gewoonlik tussen Februarie en Junie.

Die virus versprei maklik deur direkte kontak met besmette persone, sowel as deur hoes- en niesdruppels. Daarom word ouers aangeraai om noue kontak tussen babas en mense met verkouesimptome te beperk.

Premature babas en kinders met onderliggende gesondheidstoestande, soos hart- of longsiektes, loop ’n groter risiko om ernstige RSV-infeksies te ontwikkel. Hierdie kinders benodig soms intensiewe mediese sorg.


Moenie laat mense jou baba soen nie. Foto: Pandsclinic.com

Hoewel die eerste tekens dikwels soos ’n gewone verkoue lyk, kan simptome vererger tot ’n gehyg, vinnige asemhaling, voedingsprobleme en ernstige asemhalingsnood.

Daar is tans beperkte voorkomende opsies vir RSV. Hoërisiko-babas kan egter Palivizumab ontvang – ’n voorkomende inspuiting wat help om ernstige onderste lugweginfeksies te verminder. Die behandeling is duur en moet maandeliks gedurende die RSV-seisoen toegedien word. Omdat RSV deur ’n virus veroorsaak word, help antibiotika nie teen die infeksie nie.

Behandeling fokus hoofsaaklik op ondersteunende sorg, insluitend voldoende hidrasie, nasale soutoplossings en noukeurige monitering van simptome. In ernstiger gevalle kan hospitalisasie nodig wees vir suurstofterapie en binneaarse vloeistowwe.

Goeie higiëne speel ’n belangrike rol in die voorkoming van RSV. Deur gereeld hande te was, speelgoed en speeloppervlaktes skoon te hou en blootstelling aan siek mense te beperk, kan die risiko van infeksie verminder.

Van der Bijl beklemtoon ook die belangrikheid daarvan om babas teen onnodige blootstelling te beskerm.

“Hou jou baba weg van mense met verkouesimptome gedurende die RSV-seisoen. Moenie toelaat dat mense jou baba soen nie, vermy blootstelling aan sigaretrook en borsvoed indien moontlik vir so lank as wat jy kan,” sê sy.

Hoewel die meeste kinders ten volle herstel, toon navorsing ernstige RSV-infeksies in die vroeë kinderjare kan later met herhalende asemhalingsprobleme en ’n verhoogde risiko vir asma geassosieer word.

Vir ouers is die belangrikste boodskap eenvoudig: Let vroeg op die waarskuwingstekens, beskerm kwesbare babas teen blootstelling en kry mediese hulp indien asemhalingsprobleme ontwikkel.

OFM Nuus/Charne van der Merwe  cvdw

•Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.