Central SA
Odendaalsrus-pastoor, vrou gevonnis in geskiedkundige dieremishandelingsaak─── ZENANDE MPAME 15:25 Wed, 10 Jun 2026
’n Odendaalsrus-pastoor en sy vrou is in die streekhof hier direkte gevangenisstraf opgelê weens wreedheid teenoor ’n troeteldier.
Die egpaar is Dinsdag (9/6) gevonnis in ’n baanbrekende saak in die Vrystaat wat diereregte-groepe meen die vervolging van erge dieremishandeling in Suid-Afrika in ’n nuwe rigting stuur. Die vonnis word beskou as die land se eerste voorbeeld van tronkstraf vir wrede optrede teenoor ’n huisdier.
André en Reinette Labuschagné is twee jaar gelede aangekeer nadat die Virginia-DBV ’n klag ontvang het oor die wrede dood van ’n bulterriër genaamd Leo.
Die saak het verdere belangstelling gekry toe bykomende klagte in Oktober 2024 opgeduik het. Die polisie het bevestig die pastoor word ook aangekla van die verkragting van ’n minderjarige, en sy vrou omdat sy nie die misbruik aangemeld het nie.
André is tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis vir seksuele aanranding, waarvan vier jaar opgeskort is. Hy het ook ’n opgeskorte vonnis van ses maande gekry vir die aanranding van Leo se eienaar, en twaalf maande direkte gevangenisstraf vir dieremishandeling.
Reinette is tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan twee jaar opgeskort is, vir die versuim om die seksuele aanranding aan te meld. Ook sy is twaalf maande tronk toe gestuur vir dieremishandeling.
Albei is in die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders opgeneem en onbevoeg verklaar om met kinders te werk.
“Hierdie vonnis is ‘n groot oorwinning vir geregtigheid en ‘n belangrike mylpaal vir dierewelsyn in Suid-Afrika,” sê Ernest Khakhau, senior inspekteur van die Virginia-DBV. “Dit wys dat die howe die erns van dieremishandeling erken en dat daar betekenisvolle gevolge moet wees vir dié wat sulke misdade pleeg.
“Die direkte gevangenisstraf vir albei beskuldigdes stuur ‘n duidelike boodskap dat mense wat weerlose diere uitbuit, martel of mishandel, aanspreeklik gehou sal word. Ons hoop dit dien as waarskuwing vir enigiemand wat glo dat hierdie misdade ongestraf sal bly.

Tanya Sanders en Leo. Foto verskaf
“Al sien sommige ‘n twaalfmaande-vonnis as onvoldoende, is hierdie uitkoms ‘n teken van belangrike vooruitgang. Dit toon dat dieremishandeling gehanteer word met die erns wat dit verdien, en dat geregtigheid deur volharding en toewyding bereik kan word.”
Die DBV sê hy is uiters tevrede met die uitkoms van die saak; almal se toewyding het gehelp om te verseker dat geregtigheid vir Leo en vir die breër gemeenskap geskied.
Bewysstukke wat in die hof aangebied is, het getoon dat Leo met ‘n leiband gewurg is voordat hy meer as 50 keer gesteek is oor ‘n tydperk van sowat 40 tot 45 minute. Reinette het tydens die aanval gehelp deur messe vir haar man aan te dra.
Op videomateriaal wat tydens die verhoor gewys is, kan gesien word hoe Leo sy stert geswaai het deur die hele beproewing. In ‘n nadoodse ondersoek is later bevind dat die hond aan skok gesterf het wat deur die omvangryke beserings veroorsaak is.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


