Central SA
Polisie ondersoek moord, plaasrooftog op Bothaville─── ZENANDE MPAME 10:09 Tue, 16 Jun 2026
Die polisie op Bothaville ondersoek ’n gewelddadige rooftog op ’n plaas, asook ’n afsonderlike moord. Albei voorvalle het binne enkele ure plaasgevind.
Die bejaarde egpaar (77 en 80) het Sondag (14/6) net op hul plaas aangekom, toe hulle deur drie onbekende mans gekonfronteer is. Een van die verdagtes het na bewering die man met ’n hamer oor die kop geslaan, terwyl die ander twee die vrou vasgehou het.
Die egpaar is na die huis geneem waar hulle met ’n paal aangerand is. Die een man was glo gewapen en hulle het geld van die egpaar geëis.
Hulle is beveel om op die bed te sit, waarna hulle hande vasgebind, en monde toegeplak is. Die mans het die slaapkamer geplunder voordat hulle gevlug het. ’n Vuurwapen, klere en geld is onder meer gesteel.
“Die man en vrou het daarin geslaag om hulself omstreeks 23:30 los te maak en die saak by die polisie aangemeld,” sê Palesa Thabana, provinsiale polisiewoordvoerder. “Albei slagoffers is nie ernstig beseer nie en die polisie ondersoek ’n saak van huisroof.
Erna Joubert, ’n inwoner van Bothaville, sê die nuus van die plaasaanval op die bejaarde egpaar het die gemeenskap geskok. “Ons harte gaan uit na hulle in hierdie traumatiese tyd. Ons is innig dankbaar dat die Here hulle beskerm het en dat hulle nie ernstig beseer is nie.
“Hierdie voorval dien ook as ’n ernstige waarskuwing aan ons almal om meer waaksaam te wees. Veiligheidsmaatreëls, effektiewe kommunikasie tussen bure en gemeenskapsamewerking bly van kritieke belang.”
Intussen ondersoek die polisie ook die moord op 'n man (69) wat wreed aangeval is buite sy huis in die Bothaville-nywerheidsgebied.
Die man se broer, Petrus Janse Van Rensburg, het die polisie op die toneel ontmoet en hulle na die man se wit Isuzu-bakkie geneem. Die voertuig se deure was oop en daar was bloed in die binnekant.
Die oorledene is teen die heining van ’n pakhuis gevind. “Hy is verskeie kere in sy regterarm, bors en regterkant van die nek met ’n voorwerp gesteek,” sê Thabana. Twee musse is naby sy liggaam gekry.
Die polisie doen 'n beroep op enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei om kapt. Maleme van die Bothaville-speurtak by 082 466 7923 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.
Anonieme wenke kan ook op die MySAPS-app deurgee word.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


