Central SA
Moord, plaasaanval skok Noord-Vrystaatse gemeenskap─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:12 Wed, 17 Jun 2026
’n Vrystaatse boeregemeenskap is geskok ná twee geweldsmisdade 24 uur uit mekaar.
Die eerste voorval het die lewe van Petrus (Peeta) Janse van Rensburg (69) geëis. Sy liggaam is Sondag (14/6) omstreeks 06:00 buite sy huis in 7de Laan op Bothaville ontdek. Niemand is nog in verband met sy moord aangekeer nie.
Janse van Rensburg is ’n paar meter van sy wit Isuzu-enkelkajuitbakkie gevind, sê sers. Palesa Thabana, provinsiale polisiewoordvoerder. “Die voertuig se deure het oopgestaan en bloedvlekke was binne sigbaar. Sy liggaam, bedek met bloed, is teen ’n pakhuis gevind waar dit geleun het.”
Die oorledene het verskeie steekwonde aan sy regterarm, bors en die regterkant van sy nek opgedoen. Paramedici het hom op die toneel dood verklaar. Die polisie het twee maskers op die toneel gevind, maar die motief vir die moord bly onbekend.

Petrus (Peeta) Janse van Rensburg. Foto verskaf
Slegs ure later, omstreeks 20:00, is Piet en Joheen Bouwer deur drie gemaskerde mans aangeval kort nadat hulle op hul plaas Hopefield in die distrik aangekom het. Die drie verkeer ook nog op vrye voet.
“Een van die aanvallers het Piet met ’n hamer oor die kop geslaan terwyl die ander twee Joheen vasgehou het,” sê Thabana. “Die paartjie is in hul huis gedwing, waar hulle met ’n staalpaal aangerand is terwyl die aanvallers geld geëis het. Een van die verdagtes was met ’n vuurwapen gewapen.”
Die paartjie is beveel om op ’n bed te sit, hul monde is met kleefband toegeplak en hul hande vasgebind terwyl die verdagtes die huis deursoek het. Die aanvallers het weggekom met ’n rewolwer, vroueklere en -skoene, en ’n onbekende bedrag kontant.
Die Bouwers kon hulself omstreeks 23:30 bevry en hulp ontbied. Die polisie het ’n huisroofsaak aanhangig gemaak.
Enigiemand met inligting oor enige van die voorvalle word versoek om die Bothaville-speurtak by 082 466 7923 te bel.
In ’n Facebook-plasing sê ’n Bothaviller, Ena Joubert, inwoners is dankbaar dat die Bouwer-egpaar die aanval oorleef het. “Niemand behoort ooit die vrees en hulpeloosheid van so ’n aanval te ervaar nie.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

