On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Geliefde onderwyseres van Kathu word dan gegroet

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:20 Thu, 18 Jun 2026

Geliefde onderwyseres van Kathu word dan gegroet | News Article
Ilze Posthumus. Foto verskaf

Die gedenkdiens van die Noord-Kaapse onderwyseres wat byna ’n week gelede in ’n busongeluk gesterf het, word vir Vrydag (19/6) beplan.

Ilze Posthumus (30), ’n onderwyseres aan die Laerskool Kathu wat Saterdag (13/6) buite Kuruman in ’n busongeluk omgekom het, se gedenkdiens vind plaas vanuit die NG Kerk Kimberley-Harmonie. Sy was ’n oudleerder aan die Laerskool Eureka en Hoërskool Diamantveld.

Posthumus, ’n gr. 4-onderwyseres en netbalafrigter, is dood nadat die skoolbus omstreeks 07:20 sowat 12 km buite Kuruman op die N14 in ’n botsing met ’n vragmotor betrokke was. Sy was een van tien personeellede en afrigters wat saam met 44 leerlinge na ’n sportgeleentheid op Kuruman onderweg was.

“Nooddienste was vinnig op die toneel en het die personeel na die Lenmed-hospitaal in Kathu geneem. Van daar is vier mense per lugambulans en ambulans na Bloemfontein en Kimberley oorgeplaas, terwyl een persoon in Kathu vir waarneming agtergebly het,” lui ’n plasing op die skool se Facebook-blad.

Posthumus en haar man, Wihan. Foto: Facebook

Ses personeellede en afrigters is in die ongeluk beseer. Van die 44 leerlinge wat in die bus was, is slegs geringe beserings aangemeld en hulle is deur nooddienspersoneel by die Laerskool Seodin ondersoek.

Tiaan Whitehorn (31) het Dinsdag ’n operasie aan sy gesig ondergaan. Marizel Els (22), ’n netbalafrigter, is ná die ongeluk per ambulans na Kimberley geneem. Sy is Sondagoggend vanuit die waakeenheid van die Lenmed-hospitaal in Kimberley na ’n gewone saal oorgeplaas en is Dinsdag (16/6) ontslaan.

Tiaan Whitehorn. Foto: Facebook

Whitehorn en Martin van Schalkwyk, die adjunkhoof, is ná die ongeluk per lugambulans na onderskeidelik Bloemfontein en Kimberley geneem. Van Schalkwyk se vrou, Sarah, ’n departementshoof en netbalafrigter aan die skool, is ook per ambulans na Kimberley geneem.

Marizel Els. Foto: Facebook

Luidens ’n brief wat die skool Sondag (14/6) aan ouers gerig het, word die adjunkhoof vir been- en kniebeserings in ’n hospitaal in Kimberley behandel, terwyl sy vrou vir armbeserings behandeling ontvang.

Die skool wou Donderdag (18/6) by navraag geen nadere besonderhede verskaf oor die toestand van die beseerde onderwysers nie. Posthumus word oorleef deur haar man, Wihan, hul dogtertjie, Clara (2), haar ouers, Leon en Lettie Botha, en haar sibbes, Leon en Lené Botha.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.