On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

NVG in Noordwes moet verduidelik oor Fourie-skieter in private hospitaal, sê familie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:44 Wed, 24 Jun 2026

NVG in Noordwes moet verduidelik oor Fourie-skieter in private hospitaal, sê familie | News Article
Robert Joubert het tydens sy laaste hofverskyning opgedaag met ’n vergroeisel bo sy oog. Foto verskaf

Die familie van die twee Fourie-broers van Noordwes wat verlede jaar dood is ná ’n skietery by hul sake-onderneming in Potchefstroom, eis antwoorde van die Nasionale Vervolgingsgesag omdat die beskuldigde private gesondheidsorg ontvang.

Die NVG het nie ’n dringende aansoek teengestaan nie, wat daartoe gelei het dat die beskuldigde, Robert Joubert (75) vir mediese behandeling na ’n private hospitaal oorgeplaas is.

Johan le Grange, die Fourie-familie se prokureur, het in November ’n brief aan die direkteur van openbare vervolgings (DOV) in Noordwes gestuur waarin hy vra waarom die vervolgingsgesag besluit het om nie Joubert se aansoek teen te staan nie.

‘Geskok en ontsteld’

Die familie voel die belange van die slagoffers is misken. In die brief sê Le Grange hulle is geskok en ontsteld nadat die DOV ’n kennisgewing geliasseer het wat aandui dat die vervolgingsgesag by die hof se beslissing sou berus en nie die aansoek sou teenstaan nie.

Dit is die NVG se grondwetlike plig om strafsake namens die staat te vervolg en terselfdertyd die belange van die publiek en misdaadslagoffers te beskerm, sê hy. Die familie wil onder meer weet op watter gronde is besluit dit is nie in die openbare belang om die aansoek teen te staan nie, en of hul standpunt ooit in ag geneem is voordat dié besluit geneem is.

Vermeende moordenaar van Fourie-broers mag privaat behandel word | News Article

Wyle Deon (links) en Johnathan Fourie saam met hul pa, John. Foto verskaf

”Die NVG het, deur ’n neutrale houding in te neem, homself in effek teen die slagoffers geposisioneer,” sê Le Grange. Dit bekommer hom dat die hofbevel nie ’n duidelike maksimum tydperk vir Joubert se behandeling bepaal nie. Dit kan die strafregtelike proses onnodig vertraag en die naasbestaandes van hul reg ontneem om geregtigheid sonder onnodige vertragings te sien geskied.

Die familie het vroeër probeer om as ’n belanghebbende party tot die hofaansoek toe te tree, maar dié aansoek is geweier. Le Grange het daarna gesê die familie het eers verneem geen van die respondente sou die aansoek teenstaan nie nadat hulle met die staatsadvokaat gepraat het.

Verwys vir ortopediese behandeling, psigiatriese waarneming

Hy sal nou antwoorde eis van die DOV in Noordwes, sowel as die minister van korrektiewe dienste, oor die besluit om nie die aansoek teen te staan nie. Die hooggeregshof in Mahikeng het intussen gelas Joubert mag van die Potchefstroomse korrektiewe sentrum na die Netcare Jakaranda- private hospitaal in Pretoria oorgeplaas word vir gespesialiseerde ortopediese behandeling, asook psigiatriese waarneming en sorg.

Broers-aanval: Noordwester dán weer voor hof | News Article

Wyle Johnathan Fourie en sy vrou, Nadine. Foto: Facebook

Alle mediese koste, asook redelike uitgawes wat verband hou met Joubert se vervoer, aanhouding, toesig en sekuriteit, moet privaat betaal word. Die hof het voorts beklemtoon die oorplasing nie neerkom op sy vrylating uit wettige aanhouding nie en ook nie die strafregtelike verrigtinge opskort of uitstel nie.

Beskuldigde vir vier weke in private hospitaal

Joubert mag vir vier weke, of vir so lank as wat die spesialiste redelik aanbeveel, in die hospitaal opgeneem word, terwyl hy deurentyd onder wettige aanhouding en toesig moet bly. Die hospitaal moet ook minstens 48 uur voor sy oorplasing skriftelik bevestig dat hy onder dié omstandighede opgeneem kan word.

Joubert staan tereg op aanklagte dat hy Deon Fourie (55) en sy broer, Johnathan Fourie (52), op 10 November verlede jaar tydens ’n vergadering in die raadsaal van Chubby Chick in Potchefstroom geskiet het.

Johnathan is op die toneel dood, terwyl Deon sowat ’n maand later aan sy beserings beswyk het. Joubert is tydens die voorval deur ’n veiligheidswag in albei arms geskiet om hom buite aksie te stel. Sy armwonde het glo steeds nie genees nie en hy het ook ’n groeisel bo sy linkeroog.

Die kliniese sielkundige, Claire Hearne, het vroeër in die streekhof getuig Joubert is psigoties en ly aan vervolgingswaan. Joubert glo steeds die Fourie-broers wou hom vergiftig uit wraak omdat hul pa dekades gelede ’n motorwedren teen Joubert verloor het.

Christo Meiring, Joubert se regsverteenwoordiger, het vroeër vanjaar in die streekhof om private mediese behandeling vir sy kliënt aansoek gedoen. Die aansoek is deur die staatsaanklaer Hester Pretorius teengestaan. Die landdros het daarna gelas ’n volledige aansoek moet tydens Joubert se volgende hofverskyning aangehoor word.

‘Aanval was doelgerig en vooraf beplan’

Voordat dit kon gebeur, het Joubert se broer, Joshua, egter die dringende aansoek by die hooggeregshof gebring waar dit uiteindelik toegestaan is. In ’n beëdigde verklaring wat vir die familie se onsuksesvolle aansoek voorberei is, sê Deon se seun, John Fourie, die aanval was doelgerig en vooraf beplan.

‘As ek hulle nie doodgemaak het nie, sou hulle my doodgemaak het’ | News Article

Robert Joubert in die hof. Foto: Tania Coetzee

“Joubert se aktiewe psigiatriese toestand hou ’n wesenlike veiligheidsrisiko in indien hy nie onder maksimum-veiligheidsomstandighede aangehou word nie,” sê John. Hy sê hy vrees vir sy eie veiligheid, sowel as dié van die oorlewende familielede.

Die Grondwet verleen elkeen in aanhouding die reg op voldoende mediese sorg, maar nie noodwendig op private of luukse behandeling nie, sê hy. "Die hofbevel skep die indruk verskillende standaarde geld vir beskuldigdes wat private sorg kan bekostig en dié wat nie kan nie."

OFM Nuus/Charne van der Merwe   cvdw

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.