On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Varkgriep neem toe in Vrystaat soos winterseisoen verskerp

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:49 Fri, 26 Jun 2026

Varkgriep neem toe in Vrystaat soos winterseisoen verskerp | News Article
Daar is ’n toename in varkgriep in die Vrystaat. Foto: iStock

Soos ál meer mense hierdie winter met griepsimptome by dokters se spreekkamers aanklop, waarsku gesondheidswerkers varkgriep (H1N1) is steeds sterk in omloop in die Vrystaat.

Die griepseisoen het vroeër as gewoonlik begin en word gekenmerk deur ’n merkbare toename in asemhalingsiektes. Monitering toon verhoogde griepaktiwiteit, met H1N1 as een van die dominante stamme, sê dr. Jana van Niekerk van Bloemfontein.

H1N1 word saam met ander seisoenale griepstamme aangetref en versprei maklik deur hoes, nies, praat en besmette oppervlaktes. Hoewel varkgriep dikwels soortgelyke simptome as gewone seisoenale griep veroorsaak, kan dit in sommige gevalle ook braking en diarree meebring, veral by kinders.

Simptome begin gewoonlik een tot vier dae ná blootstelling en sluit koors, ’n droë hoes, seer keel, loop- of toe neus, hoof- en lyfseer, kouekoors, moegheid en ’n verminderde eetlus in.

“Swanger vroue, jong kinders, bejaardes, mense met chroniese siektes, persone met verswakte immuunstelsels en inwoners van versorgingstehuise loop die grootste risiko om ernstig siek te word,” sê Van Niekerk.

Hoërisikopasiënte moenie wag om mediese hulp te soek indien hul simptome ontwikkel of vererger nie. Diegene met ligte simptome wat nie deel van ’n hoërisikogroep is nie, behoort tuis te bly totdat hulle minstens 24 uur koorsvry is sonder die gebruik van koorswerende medikasie.

As asemhaling moeilik raak, borspyn ontwikkel, braking tot ontwatering lei, verwarring intree of die toestand vinnig versleg, moet dringende mediese hulp gesoek word.

“Die meeste gevalle herstel met voldoende rus, baie vloeistowwe en medikasie om koors en pyn te verlig. Antivirale behandeling soos Tamiflu word hoofsaaklik binne die eerste 48 uur van simptome voorgeskryf aan hoërisikopasiënte of mense wat ernstig siek is, aangesien dit die duur van die siekte kan verkort en komplikasies kan verminder.”

Sy waarsku dat antibiotika nie teen virusse werk nie en dus nie as roetinebehandeling vir griep gebruik moet word nie, tensy ’n sekondêre bakteriële infeksie ontwikkel. Die meeste mense herstel binne een tot twee weke, hoewel moegheid nog vir ’n week of twee kan voortduur.

Aansteeklik voor simptome begin

“ ’n Persoon is reeds een dag voordat simptome begin, aansteeklik en die virus kan nog vyf tot sewe dae daarna versprei, of selfs langer by kinders en mense met verswakte immuunstelsels. Daarom bly goeie handhigiëne, om in jou elmboog te hoes en tuis te bly wanneer jy siek is, van die belangrikste maniere om verspreiding te beperk.”

Die jaarlikse seisoenale griepinenting sluit beskerming teen H1N1 in en help om ernstige siekte en hospitalisasie te verminder. Die entstof word veral aanbeveel vir swanger vroue, jong kinders, ouer persone, mense met chroniese siektes en gesondheidswerkers, maar kan almal bevoordeel.

Die meeste gevalle herstel met voldoende rus, baie vloeistowwe en medikasie om koors en pyn te verlig. Foto: iStock

Verskeie wanopvattings bestaan steeds oor dié siekte. “Varkgriep is nie bloot ’n verkoue nie, die griepinenting kan jou nie griep gee nie, antibiotika help nie teen griepvirusse nie en mense kan weer griep kry omdat virusstamme voortdurend verander.”

Met dié dat die griepseisoen steeds aktief is, saam met ander respiratoriese virusse soos RSV, moedig sy mense aan om die griepinenting te kry indien hulle dit nog nie ontvang het nie.

Hulle moet ook gereeld hande was, kontak met siek mense waar moontlik vermy en vroeg mediese hulp kry as hulle tot ’n hoërisikogroep behoort of hul simptome vererger.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.