On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Huurmoord by Aliwal-Noord: Boervrou se verhoor begin

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:00 Mon, 29 Jun 2026

Huurmoord by Aliwal-Noord: Boervrou se verhoor begin | News Article
Anelle de Bruin. Foto: X

Die verhoor van ’n boervrou van Aliwal-Noord wat daarvan beskuldig word dat sy glo haar man se moord beplan het, sal na verwagting Maandag (29/6) in die streekshof op die dorp begin.

Anelle de Bruin staan tereg op ’n aanklag van sameswering om Johan de Bruin (56) te laat vermoor. Die beweerde aanval, wat glo na ’n plaasaanval moes lyk, sou glo op 8 Januarie 2025 plaasgevind het.

Sy en Johan is intussen geskei. Die saak is vir twee dae op die hofrol geplaas met die staat wat na verwagting getuies sal roep.

“Die staat het aangevoer dat probleme moontlik kan ontstaan met die bywoning van sy sleutelgetuie, Jan (Wolf) van Schalkwyk, weens ’n moontlike optog wat vir Dinsdag (30/6) beplan word,” sê adv. Allen Simpson, De Bruin se regsverteenwoordiger.

Johan en Anelle de Bruin. Foto: Facebook

Hy het egter daarop aangedring dat Van Schalkwyk vroeër vanaf Durban, waar hy woon, na Aliwal-Noord moet reis of ’n ander plan moet maak. “Die verhoor moet begin,” sê hy.

De Bruin was tydens haar vorige hofverskyning op 20 Februarie baie emosioneel. Sy word daarvan beskuldig dat sy glo ’n komplot gesmee het om Johan op 8 Januarie 2025 op hul plaas Rietpoort in die Floukraal-omgewing te laat vermoor.

Die staat voer aan sy het glo ’n polisie-informant genader sonder om te weet dat hy met die polisie saamwerk. Polisiebeamptes het egter ingegryp voordat die beweerde moord uitgevoer kon word en het daardie aand op die plaas toegeslaan. De Bruin is op 9 Januarie in hegtenis geneem.

Sy het nege dae in aanhouding deurgebring voordat sy op borgtog van R2 000 vrygelaat is. Haar borgtogvoorwaardes sluit in sy mag nie na die plaas mag terugkeer nie en mag haar kinders slegs onder toesig besoek.

Simpson sê De Bruin se weergawe van die gebeure is nog nie aan die hof voorgelê nie en dit kan ’n belangrike rol in die eindelike uitslag van die saak speel.

“In hierdie stadium verteenwoordig die inligting voor die hof slegs een kant van die saak. Van Schalkwyk het sonder formele magtiging opgetree en dit kom neer op onregmatige uitlokking.”

 OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.