On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Pensioentrekker leef in haglike omstandighede ná jarelange munisipale waterskade

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:57 Fri, 26 Jun 2026

Pensioentrekker leef in haglike omstandighede ná jarelange munisipale waterskade  | News Article
Dawn Thompson. Foto verskaf

’n Vrou van die Vrystaat leef reeds langer as 18 jaar in haglike omstandighede terwyl ’n nabygeleë munisipale opgaardam herhaaldelik haar eiendom oorstroom en haar huis beskadig.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie sal na verwagting Dawn Thompson (71) se huis op Oranjeville in die Noord-Vrystaat besoek om die omvang van die skade te bepaal. Die probleem het byna twee dekades gelede begin toe aanhoudende waterlekkasies die struktuur van haar huis begin beïnvloed het en geleidelik mure en vloere verswak het.

Ten spyte van herhaalde pogings om die probleem op te los, sê sy dat geen ingryping plaasgevind het nie. “Die situasie beskadig nie net my eiendom, maar het ook ’n ernstige emosionele en finansiële uitwerking op my lewe.”

Om in konstante onsekerheid te leef het deel van haar daaglikse werklikheid geword, vertel sy. Die probleme het in 2008 begin nadat sy die eiendom gekoop het, toe waterinfrastruktuur agter haar huis begin oorloop het na haar erf.

Weens die klammigheid is die huis besig om in mekaar te val. Foto verskaf

Die situasie het vererger wanneer munisipale werkers pompe aanskakel en dan vertrek sonder om te verseker dat die stelsel behoorlik bestuur word, wat lei tot herhaalde oorstromings van haar eiendom.

Met die jare het sy die probleem herhaaldelik aangemeld en briewe en klagtes ingedien selfs reeds in 2010. “Die konstante water het dele van my huis vernietig, insluitend mure, meubels en vloere.

Die hele huis is daagliks onder water. Foto verskaf

“Ek is gedwing om in klam en onveilige toestande te woon, met skimmel, strukturele skade en herhalende herstelwerk wat ek as ’n pensioentrekker, wat slegs op ’n Sassa-toelaag staatmaak, nie kan bekostig nie.

Selfs basiese onderhoud het onmoontlik geword, aangesien die klam toestande die struktuur van haar huis steeds erger beskadig.

Dawn moes al van die mure in haar huis afkap weens die skade. Foto verskaf

’n Gedeelte van haar grond is na bewering sonder vergoeding deur die munisipaliteit oorgeneem, terwyl nuwe waterinfrastruktuur in die gebied geïnstalleer is. Sy sê dit het die situasie op haar eiendom verder bemoeilik.

Dawn se erf is permanent vol water. Foto verskaf

Dr. Igor Scheurkogel, ’n DA-LP wat haar bystaan, sê die menseregtekommissie het bevestig beamptes sal ’n inspeksie ter plaatse uitvoer na aanleiding van die klagtes. “Die vrou leef in verskriklike en onwaardige omstandighede. Die munisipaliteit moet aanspreeklik gehou word.”

Die vloere in die huis is beskadig weens die water. Foto verskaf

Die besoek van die menseregtekommissie sal na verwagting die omvang van die skade bepaal en watter dringende stappe gedoen moet word om te verseker dat die saak behoorlik deur die betrokke owerhede aangespreek word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.