On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Kuns, geloof en ’n nuwe nier gee jong Bloemfonteiner hoop vir die toekoms

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:55 Mon, 06 Jul 2026

Kuns, geloof en ’n nuwe nier gee jong Bloemfonteiner hoop vir die toekoms | News Article
Arno Taljaard. Foto: Charne van der Merwe

’n Jong man van Bloemfontein wat ná jare van siekte en maande se dialise ’n nieroorplanting ontvang het, sê sy nuwe kans op lewe het hom geleer om gesondheid, geloof en elke dag opnuut te waardeer.

Arno Taljaard (25), by wie die genetiese toestand Alport-sindroom gediagnoseer is, het op 19 Mei ’n nieroorplanting ontvang nadat hy sedert Februarie 2025 dialise moes ondergaan. Sewe weke ná die operasie is hy ongelooflik dankbaar vir sy nuwe nier, maar sy herstel is steeds pynlik, emosioneel en uitdagend.

Taljaard het minder as 24 uur gehad om vir die operasie voor te berei nadat hy die oproep ontvang het dat ’n geskikte nier vir hom gevind is. Hy moes reeds die volgende oggend om 06:00 by die hospitaal wees.

“Ek het letterlik elke emosie ervaar wat ’n mens kan ervaar. Ek was bly, hartseer, geskok en oorweldig,” vertel hy. Hoewel die oorplanting vir hom ’n onbeskryflike geskenk was, was die operasie en die herstelproses allesbehalwe maklik.

“Ek het baie pyn gehad, en die talle pype, naalde en voortdurende monitering in die hospitaal was oorweldigend.” Hy moes ook ’n ureterstent ontvang om die nuwe nier te beskerm, wat volgens hom baie ongemaklik en pynlik was.

Taljaard moet nou weekliks bloedtoetse ondergaan en gereeld dokters besoek om seker te maak sy liggaam reageer goed op die nuwe nier en die immuunonderdrukkende medikasie. Hy is sowat ’n week gelede weer in die hospitaal opgeneem weens erge pyn, maar sê dit gaan nou beter.

Hy beskryf die pyn destyds as sewe uit tien, terwyl dit nou meestal vier uit tien is. “Die ongemak is gewoonlik die ergste vroeg soggens en verbeter teen die middag.” Taljaard sal vir die res van sy lewe immuunonderdrukkende medikasie moet gebruik om verwerping te voorkom. Omdat dié medikasie sy immuunstelsel onderdruk, moet hy ook versigtig wees om infeksies te vermy.

Arno Taljaard saam met sy ma, Elzabé Castelyn. Foto verskaf

“Ek moet reg eet, my medikasie stiptelik gebruik en seker maak ek ooreis myself nie. Vir die eerste ses maande moet ek my liggaam kans gee om behoorlik te herstel.”

Hy sal vir 'n onbepaalde tyd nie voluit kan werk nie, terwyl die koste van medikasie, opvolgtoetse en mediese behandeling steeds toeneem. Daarom het hy ’n fondsinsameling begin wat met sy kuns verbind is.

Taljaard, wat van kleins af ’n passie vir kuns het, verkoop skilderye en neem opdragwerke aan om geld vir sy mediese uitgawes in te samel en terselfdertyd bewusmaking oor sy reis te skep.

Hy het reeds op driejarige ouderdom begin teken. Een van sy eerste tekeninge was ’n driedimensionele huis, iets wat sy ouers verstom het. Later het hy met potlood en steenkool gewerk voordat hy hiperrealistiese kuns en akrielverf begin verken het.

Met verloop van tyd het kuns vir hom veel meer as net ’n stokperdjie geword. Dit het ’n manier geword om sy pyn, geloof en stryd met siekte te verwerk. Nadat hy met dialise begin het, het baie van sy werke sy persoonlike ervaring en emosionele reis uitgebeeld.

Francois Terblanche en Arno Taljaard. Foto: Charne van der Merwe

Hy het reeds uitstallings gehou, waaronder een met die tema Kwesbaar. Volgens Taljaard wil hy mense aanmoedig om te besef dat dit aanvaarbaar is om kwesbaar te wees – oor geloof, pyn, werk of enige ander deel van die lewe.

“Ek het my hart en my stryd met dialise in baie van my skilderye uitgebeeld,” vertel hy. Dialise het die afgelope jaar feitlik elke aspek van sy lewe bepaal. Ná ’n volle werkdag moes hy elke aand teen 19:00 by die huis wees om te stort voordat hy vir ongeveer nege uur aan ’n dialisemasjien gekoppel is.

“Ek het gevoel ek het nie ’n jongmenslewe gehad nie. Ek het nege uur gewerk en daarna nog nege uur dialise gekry. Mense wat dit nie self beleef het nie, verstaan nie altyd hoe dit voel om afhanklik van dialise, medikasie en ’n wagtyd vir ’n nier te wees nie.”

Arno Taljaard en sy pa, Alwyn. Foto verskaf

Alport-sindroom het hom reeds van kleins af beïnvloed. Benewens sy niere het die genetiese toestand ook sy gehoor en sig aangetas, wat kommunikasie en konsentrasie gedurende sy skooljare dikwels bemoeilik het.

“Ek kon nie altyd al die klanke hoor nie en my brein het soms die ontbrekende dele self ingevul. Dit het dikwels tot misverstande gelei.” Van kleins af het hy geweet dialise sou waarskynlik eendag deel van sy lewe word en dat hy moontlik op ’n nieroorplanting sou moes wag.

“Wanneer jy siek is, leer jy dinge wat ’n gesonde mens nie noodwendig leer nie. Jy leer om jou gesondheid en elke dag baie meer te waardeer.” Hy glo dit is belangrik dat mense wat op dialise is, hul behandeling streng moet nakom indien hulle hoop om eendag ’n oorplanting te ontvang.

“Jy moet jou kant bring. Jou bloedwaardes moet reg wees en jy moet na jou liggaam omsien. As jy nie na jouself kyk nie, kan jy nie verwag om gereed te wees vir ’n oorplanting nie.”

Arno se skildery beeld sy stryd met dialise uit. Foto verskaf

Taljaard sê sy dialisebehandeling was aan ’n moniteringstelsel gekoppel wat sy dokters voortdurend kon dophou. Hy glo sy toewyding aan sy behandeling en sy gesondheid het daartoe bygedra dat hy gereed was toe die oproep eindelik gekom het.

Mense wat op ’n oorplanting wag, moet reeds voor die tyd leef soos iemand wat ’n nuwe orgaan ontvang het. “Dan is dit nie so ’n groot skok vir jou liggaam wanneer jy die nier kry nie. Jy moet reeds gereed wees om dit te beskerm.”

Hy is ook dankbaar vir die ondersteuning en begrip wat hy van sy werkgewer, SA Truck Bodies, ontvang het. Die onderneming was van die begin af bewus van sy gesondheidstoestand en wagtyd vir ’n nier.

Toe hy die oproep ontvang dat ’n nier beskikbaar is, was hy by die werk. “Ek het na my baas gegaan en gesê ek het ’n nier gekry. Hy het net gesê: ‘Gaan daarvoor.’ ” Hy hoop om ná sy herstel die toekoms met nuwe energie aan te pak.

Hy dink met groot dankbaarheid aan die orgaanskenker en dié persoon se familie, wie se onbaatsugtige besluit sy lewe verander het. “Die skenker en sy familie sal waarskynlik nooit besef hoeveel hierdie geskenk vir my beteken nie. Deur een besluit het hulle vir my ’n tweede kans op die lewe gegee.”

Taljaard sê sy geloof het hom deur die donkerste tye gedra. Hy beskryf homself as ’n “lewende getuienis” en kies om nie op die moontlikheid van orgaanverwerping te fokus nie. “Ek bly positief. Alles het goed verloop met die oorplanting. Ek het geweet daar gaan pyn wees, maar buiten dit is ek op ’n goeie plek.”

Taljaard, wat besig is met sy opleiding as ’n elektrisiën, beplan reeds sy volgende kunsuitstalling vir volgende jaar en glo dit sal sy beste een nóg wees. Die oorplanting is nie die einde van sy reis nie, maar die begin van ’n nuwe hoofstuk. “Hierdie reis gaan nie bepaal hoe ek leef nie. Dit gaan my sterker maak. Ek wil voluit leef en elke dag ten volle benut.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.