Central SA
Noord-Kaapse hofuitspraak ‘groot oorwinning’ vir renosterbewaring─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:14 Mon, 06 Jul 2026
’n Private bewaringskenner bestempel ’n hofuitspraak wat die uitvoer van wettig en eties geoeste renosterhoring moontlik kan maak, as ’n “massiewe regsoorwinning vir renosterbewaring”.
Die hooggeregshof in Kimberley het in verlede jaar in wildboer Wicus Diedericks se guns beslis. Die hof het bevind die horings van witrenosters wat in aanhouding vir bewaringsdoeleindes geteel is, kan kwalifiseer vir uitvoersertifikate indien aan die toepaslike wetlike vereistes voldoen word.
Dieselfde hof het Vrydag (3/7) die regering se aansoek om verlof tot appèl met koste van die hand gewys.
Dié uitspraak kan die uitvoer van wettig en eties geoeste renosterhoring van bewaringsteelgeriewe moontlik maak, onderhewig aan die nodige wetlike vereistes, sê Diedericks, eienaar van Rockwood Conservation,’n wildreservaat van 13 355 hektaar.
Diedericks het die regering hof toe geneem om die owerheid te dwing om die uitvoer van meer as 500 witrenosterhorings goed te keur.

Wicus Diedericks. Foto Facebook
“Hierdie historiese besluit verlede jaar het die regte van private bewaringskenners en teelfasiliteite bevestig om hul kritieke, hoëkoste-beskermingspogings te finansier,” sê Diedericks.
Dit is ’n besluit wat kenners glo die spesie kan red, bewaring op ’n volhoubare wyse kan finansier en landelike gemeenskappe oor Suid-Afrika heen kan ophef.
Die uitspraak is veral belangrik vir private reservate soos Rockwood Conservation, wat daarin geslaag het om hul renosterbevolkings te beskerm en te laat groei, ondanks die geweldige finansiële druk wat daarmee gepaard gaan, sê hy.
Die Krugerwildtuin het glo sedert 2010 meer as 80% van sy renosters verloor, terwyl private reservate die enorme koste van veiligheid en beskerming moes dra. “Hierdie uitspraak stel bewaringskenners in staat om eindelik die horings wat ons eties snoei te verkoop en bied ’n broodnodige reddingsboei om hierdie enorme beskermingskoste te dek.”

Die uitspraak is veral belangrik vir private reservate. Foto: Facebook
Hy sê die renosterhoring bestaan uit keratien, dieselfde materiaal as menslike hare en naels, en kan veilig van lewende renosters verwyder word sonder om pyn of besering te veroorsaak.
“Rockwood snoei reeds renosterhorings om stropers af te skrik en beserings te voorkom. Die verkoop van bestaande voorraad kan broodnodige kapitaal verskaf om veiligheid te finansier en renosters op ’n volhoubare manier te beskerm.
“Die verbod op wettige handel het verbruikers vir te lank na die swartmark gedwing en ’n kunsmatige monopolie geskep wat stroperysindikate bevoordeel. Nou het ons ’n wettige, gereguleerde alternatief wat die mense bemagtig wat hierdie pragtige diere werklik beskerm.”
Internasionale handel in renosterhoring is sedert 1977 ingevolge die konvensie oor internasionale handel in bedreigde spesies van wilde fauna en flora verbied.
Die Britse Environmental Investigation Agency het Diedericks se hofaansoek in Mei as ’n “roekelose waagstuk” beskryf en gewaarsku dat dit die internasionale verbod kan ondermyn, die vraag kan verhoog, wetstoepassing kan verswak en onwettige handel kan aanwakker.

Suid-Afrika is die tuiste van die wêreld se grootste renosterbevolking, maar bly ook ’n stroperybrandpunt weens die vraag na renosterhoring in dele van Asië, waar dit in tradisionele medisyne en as ’n statussimbool gebruik word.
Die departement van bosbou, visserye en die omgewing sê die nuutaangestelde minister, David Maynier, sal nog besluit of daar teen Vrydag se beslissing geappelleer gaan word.
Diedericks versoek Maynier om die hof se beslissing te aanvaar. “Ons vra hom om moed en integriteit te toon, die hof se beslissing te eerbiedig en beheer oor hierdie hulpbron weg te neem van georganiseerde misdaad en terug te plaas in die hande van dié wat dit beskerm.”
OFM Nuus/Charne van de Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
