On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Familie vra ooggetuies se hulp ná Fochville-pa se dood

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:42 Tue, 07 Jul 2026

Familie vra ooggetuies se hulp ná Fochville-pa se dood | News Article
Adderley Parau. Foto verskaf

Waarom is die ander bestuurder se verklaring eers byna sewe weke ná die motorfietsongeluk geneem?

Dit is die vraag waarmee die familie van Adderley Parau (36) worstel nadat hy op 22 Mei op pad huis toe in ’n ongeluk op die R500 tussen Carletonville en Fochville dood is. Sy vrou, Samantha, doen ’n beroep op ooggetuies weens kommer die ondersoek sal net staatmaak op die ander bestuurder se weergawe van die ongeluk.

Sy het onrustig begin raak toe haar man nie by die pizzarestaurant op Fochville vir hul afspraak opgedaag het nie. Hy het haar vroeër laat weet hy is van sy werk op pad, maar ’n halfuur later was daar steeds geen teken van hom nie.

Sy het haar man se voorman gebel en hulle het besluit om na hom te gaan soek. Samantha het haar twee oudste kinders gaan aflaai en saam met haar oupa en drie maande oue baba na die R500 gery.

Adderley Parau en sy vrou, Samantha. Foto verskaf

Hulle het by ’n ander ongelukstoneel stilgehou en sy is meegedeel van die motorfietsongeluk ’n entjie verder. “Niemand het my gebel om te sê daar was ’n ongeluk nie en ek moes self na hom gaan soek.”

Die ongeluk het naby die afdraai na die Fountain-hospitaal gebeur en sy het dadelik haar man se motorfiets herken. Parau is op die toneel dood verklaar.

Volgens inligting was Parau in die regterbaan onderweg vanaf Carletonville na Fochville. Na bewering het ’n rooi dubbelkajuitbakkie van die linkerbaan voor hom ingedraai om ’n U-draai in die rigting van Carletonville te maak.

Samantha sê ’n vrou wat kort ná die ongeluk op die toneel aangekom het, het haar vertel daar was in daardie stadium nog geen ambulans of polisie gewees nie. Dié vrou beweer Parau het in die pad gelê, terwyl daar (verdagte) mense rondom hom gestaan het.

Sy is ook bekommerd en kwaad want die saak word nie as dringend beskou nie. Na bewering is die bestuurder van die bakkie ’n bekende persoon in die plaaslike gemeenskap.

“Ek wil nie die ondersoek vooruitloop nie, maar die vertraging met die neem van die bestuurder se verklaring, asook die gebrek aan terugvoer maak my bang die saak kan moontlik ‘toegesmeer’ word.

Adderley by sy seun en dogter. Foto verskaf

“Die enigste persoon wat nou kan vertel wat gebeur het, is die bestuurder van die ander voertuig. My man kan nie sy kant van die storie vertel nie. Daarom het ons mense nodig wat iets gesien het sodat ons kan weet wat werklik gebeur het,” sê Samantha.

Die polisie is glo ook al verskeie kere onsuksesvol vir antwoorde gekontak. “Ek het ook inligting ontvang dat die bestuurder moontlik onder die invloed van drank was ten tyde van die ongeluk.

“Ek wil net hê geregtigheid moet geskied. Hy was op pad huis na sy gesin. My drie kinders van nege, vyf en drie maande oud moet nou sonder hul pa grootword. Ons verdien antwoorde,” sê ’n hartseer Samantha.

Die polisie het Dinsdag (7/7) aan OFM Nuus bevestig ’n verklaring is eers Vrydag (3/7) van die ander bestuurder verkry. Hulle kon egter nie bevestig waarom dit so lank geneem het nie.

Die familie is egter deur die polisie meegedeel hy was in die Oos-Kaap en dit is die rede vir die vertraging. Die familie beweer hy is twee dae ná die ongeluk in Fochville gesien.

Enigiemand wat die ongeluk op 22 Mei omstreeks 18:00 op die R500 tussen Carletonville en Fochville gesien het, kort daarna op die toneel aangekom het, of oor enige inligting of beeldmateriaal beskik word versoek om hul naaste polisiekantoor te kontak, Stop Misdaad op 0800 10111 te bel, of anonieme wenke deur te MySAPS-app te stuur.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.