On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Welkom-sorgoord: Ses se beweerde aanrandingsverhoor begin dan

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:18 Thu, 09 Jul 2026

Welkom-sorgoord: Ses se beweerde aanrandingsverhoor begin dan | News Article
Anna Fourie, Lynette Brummer, twee van die beskuldigdes, en Bettie Payne. Foto’s: Charne van der Merwe/verskaf

Die ses mense wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n 81-jarige in ’n Vrystaatse versorgingsoord aangerand het, se verhoor sal na verwagting Vrydag (10/7) begin.

Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Mapaseka Majorobella (35), Nomsa Ngcongwane (55), Ntswaki Mofolo (30) en Puseletso Moloi (33) staan tereg op aanklagte van poging tot moord, ontvoering en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hulle is almal voormalige werknemers van die Silver Village-versorgingsoord in Welkom.

Brummer, Fourie, ’n verpleegster, en die versorgers Ngcongwane en Majorobella is op 9 Julie verlede jaar in hegtenis geneem. Nog twee versorgers, Mofolo en Moloi, is op 14 Julie aangekeer. Brummer is op 18 Julie borgtog van R5 000 toegestaan, terwyl die ander vyf beskuldigdes elk borgtog van R1 000 ontvang het.

Brummer, wat ’n senior pos by die versorgingsoord beklee het en ook ’n aandeelhouer was, word as die hoofbeskuldigde beskou, het ao. Anja Tait, die ondersoekbeampte, vroeër getuig.

Bettie Payne en haar dogter Mariana. Foto verskaf

’n Anonieme bron beweer 40 video-opnames wat verband hou met die beweerde aanranding van Bettie Payne sal as bewysstukke ingedien word. Die beeldmateriaal van 7 Julie wys na bewering hoe Brummer pille in Payne se mond indwing, in haar gesig blaas, haar neus toeknyp en op haar spoeg nadat sy geweier het om die medisyne te neem. Die slagoffer het slegs 40 kg geweeg.

Toe Payne begin skree het, het Brummer na bewering met kleefband teruggekeer en dit om Payne se mond en kop gedraai. Payne se dogter, Mariana, het kort voor die voorval ’n kamera in haar ma se kamer laat installeer nadat sy vermoed het iets is verkeerd.

Die hof het die beskuldigdes gewaarsku dat die aanklagte ernstig is en dat elke oortreding ’n vonnis van tot 15 jaar tronkstraf kan meebring indien hulle skuldig bevind word.

Tait het vroeër getuig die video-opnames is deur ’n sigbare kamera in die kamer vasgelê en dat die personeel bewus daarvan was. Die beeldmateriaal is later aan die ondersoekbeamptes oorhandig.

Sorgoord-aanranding: Twee beskuldigdes verander van prokureurs | News Article

Puseletso Moloi, Ntswaki Mofolo, Nomsa Ngcongwane, Mapaseka Majorobella, Anna Fourie en Lynette Brummer. Foto: Charne van der Merwe

Fourie, Majorobella, Ngcongwane, Mofolo en Moloi word ook in die beeldmateriaal geïmpliseer. Fourie het na bewering die kamer met ’n selfoon binnegekom terwyl Payne om hulp geskree het. Twee ander personeellede het na bewering toegekyk.

Brummer word verder daarvan beskuldig dat sy Payne met ’n kombers toegemaak het, gesê het niemand sou haar hoor nie, die lig afgeskakel en die kamer verlaat het.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn:066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.