On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

‘Geregtigheid moet geskied’ – Vrystaatse premier ná student raakgery is

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:04 Sun, 12 Jul 2026

‘Geregtigheid moet geskied’ –  Vrystaatse premier ná student raakgery is | News Article
Kgethang Kgotso Khaeane. Foto verskaf

’n Politieke party in die Vrystaat het sy meegevoel uitgespreek met die familie van ’n student wat in ’n beweerde tref-en-trapongeluk dood is.

Kgethang Kgotso Khaeane (25), 'n student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), is glo dood nadat hy ingegryp het toe ’n vrou na bewering in Bloemanda, Bloemfontein, aangerand is. Die verdagte is glo ’n voormalige munisipale bestuurder wat gewelddadig teenoor sy vrendin was.

Khaeane is daarna na bewering herhaaldelik deur ’n voertuig raakgery. MaQueen Letsoha-Mathae, Vrystaatse premier, het die familie besoek en hulle verseker die saak sal deeglik ondersoek  word en geregtigheid sal geskied. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Die DA sê indien die bewerings bevestig word, is dit nóg 'n tragiese herinnering aan die verwoestende gevolge van geslagsgeweld.

Die slagoffer se familie soek geregtigheid. Foto verkaf

“Die bewerings dat ’n senior ANC-kader moontlik by die voorval betrokke was, moet deeglik ondersoek word. Niemand is bo die wet verhewe nie, ongeag politieke posisie of verbintenis,” sê dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier.

Die DA doen ’n beroep op die polisie om ’n vinnige, onpartydige en professionele ondersoek te doen. Die party vra ook getuies moet na vore kom en enige foto's, video's of ander inligting aan die polisie verskaf. 

Brig. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die voorval het Sondag (5/7) omstreeks 05:38 gebeur en ’n saak van strafbare manslag word ondersoek. 

MaQueen Letsoha-Mathae, Vrystaatse premier, het die familie besoek. Foto verskaf

“Alle getuieverklarings en uitstaande verslae, insluitend die lykskouingsverslag, moet eers ontvang word voordat die dossier aan ’n senior staatsaanklaer vir 'n besluit voorgelê word”

Sy sê die polisie is ook bewus van die bewerings wat op sosiale media versprei word. “Alle sake word onpartydig ondersoek, ongeag die beroep of status van enige persoon wat moontlik betrokke is.”

Letsoha-Mathae het haar innige meegevoel met sy familie betuig. Sy sê sy kan haar as ma nie indink aan die pyn waardeur die familie gaan nie en beskryf die voorval as ’n donker wolk wat oor die provinsie hang.

Sy het die familie verseker die polisie sal die saak sonder vrees of begunstiging ondersoek en beklemtoon  niemand is bo die wet verhewe  nie. “Geregtigheid moet geskied.”

Maphehello Khaeane, Khaeane se ma, doen ’n beroep op Letsoha-Mathae en Jabu Mbalula, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, om te verseker geregtigheid geskied vir haar seun.

Mbalula het die familie verseker diegene wat vir Khaeane se dood verantwoordelik is, sal nie geregtigheid ontduik nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn:066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.