On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-ma waarsku ná RSV amper baba se lewe eis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:05 Mon, 13 Jul 2026

Noordwes-ma waarsku ná RSV amper baba se lewe eis | News Article
Basson Roode in die hospitaal weens RSV. Foto verskaf

Wat aanvanklik na ’n onskuldige maagvirus gelyk het, het binne enkele dae in ’n lewensgevaarlike situasie ontaard toe ’n ses maande oue baba ernstig siek geword het weens die respiratoriese sinsitiale virus (RSV).

Ná tien dae in die hospitaal doen Elizca Stemmet van Potchefstroom ’n dringende beroep op ouers om hul instink te vertrou wanneer iets nie reg voel met ’n siek baba nie. Sy hoop hul traumatiese ervaring sal ander ouers bewus maak van hoe vinnig RSV ’n baba se lewe kan bedreig.

Basson Roode was pas ses maande oud toe hy Donderdag (9/7) ná tien emosionele dae uit die hospitaal ontslaan is. “Hierdie bewusmaking gaan nie net oor sy wonderbaarlike herstel nie, maar ook oor die lewensgevaar van RSV en die belangrikheid daarvan om vroeg op te tree.”

Hy het op 25 Junie die eerste tekens van siekte begin toon toe hy begin opgooi het. Aanvanklik was daar geen koors of ander tekens dat iets ernstigs fout was nie. Hy het steeds normaal gedrink en soos sy gewone self opgetree.

PJ Roode jr., Basson Roode en Yovanè Stemmet. Foto verskaf

Die volgende paar dae het hy egter aanhoudend opgegooi en diarree gehad. Verskeie dokters het hom ondersoek en gastro of ’n ligte borsinfeksie vermoed, maar sy toestand het skielik verander toe sy bors krakerig begin klink en hy ’n koors van 39 °C ontwikkel het.

“Ek het net ’n gut feeling gehad dat iets anders fout is en besluit om hom ongevalle toe te neem.” Kort daarna is RSV, Covid-19 en brongiolitis by Basson gediagnoseer.

Respiratoriese ontsteking

RSV, saam met ander respiratoriese virusse soos rhinovirus en die para-influensavirus, kan brongiolitis veroorsaak – ’n respiratoriese ontsteking wat hoofsaaklik by kinders onder twee jaar voorkom.

Terwyl verskeie virusse tot brongiolitis kan lei, is RSV die algemeenste oorsaak. Dit raak meestal jong kinders, veral babas, sê dr. Chantelle van der Bijl, ook bekend as Bloem MomDoc op sosiale media.

Basson Roode se longe is aangetas. Foto verskaf

RSV begin met simptome soortgelyk aan die gewone verkoue, maar kan ontwikkel tot ernstige respiratoriese probleme wat hospitalisasie vereis. Dit is die hoofoorsaak van brongiolitis en verantwoordelik vir sowat 90% van hospitaalopnames gedurende spitstye.

Die dokters het aan Elizca verduidelik al drie siektes het sy longe aangetas, maar dat RSV die grootste gevaar ingehou het. Die virus maak die slym in die longe so dik en keer dat die longe behoorlik met suurstof kan vul, terwyl dit ook die longwand beskadig. Dit veroorsaak die res van die liggaam moet al harder werk om genoeg suurstof te kry.

Basson is in die hoësorgeenheid by Mediclinic Potchefstroom opgeneem waar hy op hoëvloei-suurstof geplaas is. Hy is voortdurend gemonitor, verskeie kere per dag met adrenalien gestoom, fisioterapie ontvang en sy lugweë is gereeld van slym skoongemaak.

Basson Roode in die hospitaal. Foto verskaf

“Dit was vir my verskriklik erg om sy klein lyfie so te sien. Ek het nog nooit in my lewe so magteloos gevoel nie. Ek het baie keer vir die Here gesê Hy moet my eerder vat en my op die pype en masjiene sit, want daardie klein lyfie verdien dit glad nie,” sê Elizca.

Hoewel sy suurstofbehoefte aanvanklik van 16 liter tot agt liter verminder het en dokters beïndruk was met sy herstel, het hy op 4 Julie ’n ernstige terugslag beleef. Sy suurstof moes weer verhoog word en sy ma is gewaarsku ’n ventilator kon die volgende stap wees indien hy nie op verdere behandeling reageer nie.

Longe

Hy het goed op die nuwe behandeling gereageer en dokters kon hom geleidelik weer van die suurstof speen. Hoewel hy ontslaan is, sal sy longe nog vir weke uiters vatbaar wees.

Die ervaring het sy ma se siening oor verkoues en RSV heeltemal verander. “Ek het voorheen gedink RSV is bloot net nog ’n verkoue, maar besef nou hoe vinnig dit lewensgevaarlik kan word, veral vir babas.”

Haar boodskap aan ander ouers is om hul instink te vertrou. “Jy is nie paranoïes nie. Beskerm jou kind, al verstaan ander mense dit nie. Gaan tien keer dokter toe as jy moet. Eerder ’n bang Jan as ’n dooie Jan.”

Sy moedig ook ouers en besoekers aan om geen babas te soen of vas te hou as hulle siek is nie, gereeld hande te was en ouers se grense te respekteer. “Vir jou is dit dalk net ’n verkoue, maar vir ’n baba kan dit hoësorg en suurstofmasjiene beteken.”

Die gesin het intussen ’n fondsinsameling begin nadat hulle sonder ’n aktiewe mediese fonds met enorme mediese uitgawes gekonfronteer is. Hulle het reeds sowat R60 000 vir Basson se behandeling betaal, maar daar is nog ongeveer R70 000 uitstaande.

 Elizca, Basson en PJ Roode. Foto verskaf

“Ek wens hierdie ervaring nie eens vir my grootste vyand toe nie. As Basson se storie net een ouer kan laat vroeër optree en een baba se lewe kan red, dan het dit ’n verskil gemaak.”

Die Tafelronde Potchefstroom 47 het intussen ook ’n insamelingslootjie begin om Basson se gesin met die hoë mediese koste te help. Kaartjies kos R100 elk. Alle opbrengste word net so vir sy behandeling aangewend.

Deelnemers kry die kans om ’n luukse horlosie van R10 000 te wen. Die wenner sal op 15 Augustus regstreeks op die organisasie se Facebook-blad aangekondig word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.