Central SA
Noordwes-polisie vra hulp ná mans glo spore maak met pensioengeld─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:45 Wed, 15 Jul 2026
Noordwes-polisie vra inwoners moet drie mans help opspoor nadat hulle glo spore gemaak het met ’n vrou se pensioengeld.
Een van die verdagtes het homself na bewering as Emmanuel Jackson Kigezi voorgestel toe hy en die vrou (52) van Klerksdorp mekaar in Augustus 2025 in die stad ontmoet het. Die twee het glo daarna ’n romantiese verhouding aangeknoop, sê lt.kol. Tinyiko Mathebula.
Emmanuel het glo aan die vrou ’n testament van R14 miljoen gewys en beweer sy pa het dit aan hom nagelaat. “Hy en ’n medepligtige het haar na bewering oortuig dat hulle R1,2 miljoen nodig het voordat die geld uitbetaal kon word.”
Die vrou het glo haar werk bedank en haar pensioenuitbetaling van R2,5 miljoen ontvang. Sy het daarna na bewering R2 miljoen in die bankrekeninge van twee maatskappye oorbetaal soos Emmanuel versoek het om die boedel af te handel. “Nadat die geld betaal is, het Emmanuel en sy vermeende medepligtiges hulle uit die voete gemaak,” sê Mathebula.
Enigiemand met inligting wat die polisie kan help om die drie mans op te spoor, word versoek om lt.kol. Motsamai Mthombeni by 071 481 3390 te bel of Stop Misdaad by 08600 10111. Anoniem wenke kan ook deurgegee word op die MySAPS-app.
Hoe werk romansebedrog?
Romansebedrog is ’n vorm van finansiële bedrog waar swendelaars ’n vertrouensverhouding met ’n slagoffer opbou voordat hulle geld vra. Volgens die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) maak bedrieërs dikwels asof hulle verlief raak of 'n ernstige verhouding wil aanknoop.
Sodra hulle die slagoffer se vertroue gewen het, versin hulle gewoonlik 'n dringende finansiële krisis, 'n erfporsie, saketransaksie of ander rede waarom geld dringend nodig is. Die slagoffer word dan oorreed om geld oor te betaal, dikwels na verskillende bankrekeninge.
Nadat die geld ontvang is, verdwyn die bedrieërs of maak nuwe verskonings om nog geld te eis. Sabric waarsku dat mense versigtig moet wees vir enigiemand wat vroeg in 'n verhouding vir geld vra of hulle onder druk plaas om groot bedrae oor te betaal. Moet nooit geld stuur aan iemand wat jy nie persoonlik ken of wie se bewerings nie onafhanklik bevestig is nie.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

