Central SA
Bergfietsreuse mik vir nasionale glorie in Bloemfontein─── SUSAN MARÉ 14:51 Thu, 16 Jul 2026
Die SA Nasionale XCC/XCO-kampioenskap vir fietsryers Saterdag (18/7) en Sondag in Bloemfontein beloof om die land se beste elite- en jeugryers bymekaar te bring.
Onder hulle is ’n wêreldkampioen en Suid-Afrikaanse kampioen. Die Union Cycliste Interationale (UCI) is die wêreldbeheerliggaam onder wie se vaandel die sport is wat die reëls, ranglyste, Olimpiese kwalifikasies en wêreldtitels bepaal.
Deon Steyn, president commissaire vir die SA Nasionale XCO-kampioenskap, is sedert 2011 ’n internasionale bergfietsskeidsregter en was in beheer van onder meer vyf Afrika- Kontinentale Kampioenskappe, een All Africa Games in Marokko en verskeie internasionale wedrenne in Suid-Afrika.
Steyn se naam word gekoppel aan groot bergfietstoere soos die Cape Epic (4x), Cape Pioneer Trek (3x), Sani2C (3x) en die 2024 XCO (Cross Country) Wêreldkampioenskap in Andorra in Suidwes-Europa in die Pirenese berge.
“Ek sien uit na die naweek in Bloemfontein. Alan Hatherly van KwaZulu-Natal het vir die kampioenskap ingeskryf, wat groot nuus is. Hy is die wêreldkampioen vir 2024 en 2025. Ons sien min wêreldkampioene in Suid-Afrika. Uiteraard het dit groot kommersiële waarde vir die byeenkoms en organiseerders.
“Belangriker is dit vir jong en opkomende ryers om hom in aksie te sien of saam met hom te ry. Dis ’n groot geleentheid vir hulle en ek weet al daar gaan baie handtekeninge gevra en uitgedeel word.
“Ons beste vroueryer en huidige SA kampioen, Candice Lill, ry ook Saterdag. Sy was al in die toptien op die wêreldranglys, so ’n jaar of twee gelede. Ek is trots op Candice wat ’n ongelooflike ambassadeur vir vroulike bergfietsryers is.”

Deon Steyn, internasionale skeidsregter vir fietswedrenne hurksit heel voor. Alan Hatherley, wêreldkampioen, is vierde van links in die agterste ry. Foto verskaf
Die program begin Vrydag (17/7) met die amptelike registrasie en baanoefeninge. Op Saterdag (18/7) vind die XCC–renne (kortbaan) plaas, direk gevolg deur die Sprog- en Nipper-klasse. Die hoofdag van XCO-wedrenne (Olimpiese Cross Country) is op Sondag.
Die wedrenkategorieë vir die 2026 SA Nasionale Kampioenskap by Happy Valley word volgens ouderdomsgroepe bepaal en verdeel. Die reëls is streng en deelnemers moet oor ’n geldige lisensie van Fietsry Suid-Afrika beskik of lisensies soos wat die riglyne voorskryf.
Van die kategorieë is Elite (19 jaar en ouer); Onder 23: 19–22 jaar oud; Junior: 17–18 jaar oud. Jeug- en skoolkategorieë waarvoor ryers ’n aktiewe Fietsry SA-lidmaatskap nodig het vir inskrywing, is: Jeug: 15–16 jaar oud; Sub-Junior: 13–14 jaar oud.
Ontwikkeling- en kinderkategorieë wat fokus op grondliggende wedrenne laat daglisensies of aktiewe lidmaatskap toe, afhangend van die baanvlak en afstand. Jeug van 15 tot 16 jaar kan ook deelneem en daar is ook die Sprog-afdeling vir kinders van 11 tot 12 jaar oud. Die Nipper-afdeling is vir kinders van 8 tot 10 jaar oud.

Deon Steyn en Johnny Koen, ’n voormalig professionele Springbokfietsryer. Foto verskaf
Volgens Steyn is Happey Valley ideaal vir hierdie nasionale fietsryuitdaging en boonop toeskouervriendelik en kan baie besoekers verwag word.
Vir deelnemers is dit uitdagend om by Happy Valley deel te neem vanweë natuurlike hindernisse, rotstuine, steil hoogtes en vinnige afdraandes. Dit is wyd bekend as een van die meer fisieke- en tegnies uitdagende wedrenbane in Suid-Afrika.
Steyn nooi almal in Bloemfontein en belangstellendes binne rybare afstand vanaf hulle bestemmings na die stad om die opwindende naweek met briljante fietsryers te kom ondersteun en geniet.
Registrasie kan aanlyn gedoen word by EasyReg. Alle besonderhede is op die UCI-geleentheidswebtuiste en die Free State Cycling se Facebook-blad kan ook besoek word.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

