On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Nuwe landdros, aanklaer vir voormalige Klerksdorpse prokureur se verhoor

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:54 Tue, 21 Jul 2026

Nuwe landdros, aanklaer vir voormalige Klerksdorpse prokureur se verhoor | News Article
Dié vier jong mense van Klerksdorp het in ’n ongeluk gesterf. Foto’s verskaf

’n Nuwe landdros en staatsaanklaer is aan die saak van die gewese Klerksdorpse prokureur toegewys omdat hy vroeër in regskringe in die stad gewerk het.

Edward Letsie (34) se verhoor is vir 17 en 18 September op die hofrol geplaas. Hy staan tereg op vier aanklagte van strafbare manslag weens die dood van Ruan Esterhuizen, Jackie Willis (21), sy meisie, Max Knott-Craig (22), sy beste vriend, en Jané Janse van Rensburg (19), Knott-Craig se meisie.

Die saak is ook op 10 Julie in die streekhof in Klerksdorp uitgestel nadat die families onder die indruk was dat die voorverhoorverrigtinge sou plaasvind. Die hof het egter gehoor dat Letsie se regsverteenwoordiger nie teenwoordig kon wees nie omdat hy by borgtogverrigtinge in ’n ander saak betrokke was.

‘Van rol geskrap’

Letsie het reeds verskeie regsverteenwoordigers gehad, wat by meer as een geleentheid nie by die hof opgedaag het nie. 

Streeklanddros Tinus Boonzaaier het ook die saak uitgestel en gesê reëlings moet getref word vir ’n ander landdros en staatsaanklaer omdat Letsie voorheen as prokureur in Klerksdorp gepraktiseer het. Letsie is van die rol geskrap, maar dis nie duidelik hoekom nie.

Die nuwe landdros is van Johannesburg en die nuwe staatsaanklaer van Klerksdorp. “Die staatsaanklaer het eers verlede jaar in Klerksdorp begin praktiseer en ken nie vir Letsie nie,” sê Cherice Grobler, Esterhuizen se suster.

Die families het voorheen reeds kommer uitgespreek oor Letsie se voormalige posisie as prokureur in die dorp en die regskringe waarin hy beweeg het.

“Gegewe sy regsagtergrond, verstaan hy die stelsel en weet hy hoe om prosedures te gebruik om ’n saak te vertraag en uit te rek. Ons moet onsself voorberei vir daardie moontlikheid, want dit sal waarskynlik voortduur tensy iets verander en hy eindelik gevonnis word,” sê Albie Janse van Rensburg, Jané se pa.

Ruan Esterhuizen saam met sy twee susters, Denice en Cherice. Foto verskaf

Grobler sê die hofverskyning het vir die families ’n mate van verligting gebring. “Ná baie maande van uitstelle en onsekerheid voel dit uiteindelik of daar beweging in die saak is.

“Hoewel ons bewus is dat die regsproses sy eie verloop het, gee hierdie vaste datums vir ons nuwe hoop dat die saak uiteindelik aangehoor sal word. Ons vertrou die hofproses en sal voortgaan om dit met waardigheid en geduld te volg.”

Geregtigheid

Hulle dra steeds die verlies van hul geliefdes elke dag saam met hulle. “Geen hofsaak kan hulle terugbring nie, maar ons glo dat geregtigheid belangrik is, nie net vir ons families nie, maar ook ter wille van aanspreeklikheid en die waarheid.

“Ons bly hoopvol dat geregtigheid uiteindelik sal geskied,” sê Grobler.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.