Central SA
Vrystaatse boerseun se hand vermink ná klapper in VSA ontplof─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:38 Tue, 21 Jul 2026
“ ’n Mens wonder soms hoekom sulke goed met goeie mense gebeur.”
Dit is die vraag waarmee Erika Boshoff van Hertzogville worstel. Haar seun, Hendrikus (22), het in die VSA sy regterhand moontlik permanent vermink toe ’n klapper onverwags in sy hand ontplof het.
Wat as ’n gewone braai ná werk saam met vriende bedoel was, het binne sekondes in ’n nagmerrie ontaard. Nou wag ’n lang pad van operasies, fisioterapie en aanpassing op die jong Vrystaatse boerseun.
Onafhanklikheidsdag
Hendrikus, wat reeds die afgelope drie jaar op ’n plaas naby New Rockford in Noord-Dakota werk, was op 4 Julie saam met ’n Suid-Afrikaanse vriend by hul woonstel toe ’n Amerikaner, wat hulle goed ken, daar opdaag met vuurwerk om die land se Onafhanklikheidsdag te vier.
“Hulle het klaar gewerk vir die dag en was besig om vleis te braai. Die Amerikaner het met die klapper daar aangekom en half aangedring dat Hendrikus hom moet aansteek,” vertel Erika.

Hendrikus Boshoff het weer begin werk ná die voorval. Foto verskaf
Die klapper het glo onmiddellik ontplof toe die lont aangesteek is. “Hy het nie geweet die ding gaan so vinnig afgaan nie. Hy sê heeltyd vir my: ‘Mamma, dit is nie my skuld nie. Ek het nie besef die ding gaan so vinnig ontplof nie.'“
Die ontploffing het sy regterhand verwoes. Al vyf sy vingers moes by die eerste lit geamputeer word, terwyl die senuwees en spiere in sy handpalm ernstig beskadig is. Sy linkerhand het ligte brandwonde opgedoen, hy het ook brandwonde aan sy bors en beserings aan sy gesig en albei sy oordromme het gebars.
‘Mamma, ek wil huis toe kom’
Vir Erika het die skok egter ure later in Suid-Afrika gekom. “Net ná ses die oggend het my man my gebel en gevra of ek my koffie klaar gedrink het. Toe sê hy daar was ’n ongeluk met Hendrikus in Amerika. Ek het op die top van my longe geskree, want ek het nie geweet of my kind nog lewe nie.”
Sy beskryf daardie oomblikke as iets wat sy nooit sal kan vergeet nie. “Ek kan dit vir geen mens beskryf nie. Ek dink ek het half ’n angsaanval gehad. My dogter (14) moes die heeltyd vir my pille aandra.”
Die eerste keer wat Hendrikus self sy ouers kon bel, was eers nadat hy uit die teater gekom het. “Die eerste twee dae het hy net gehuil en gesê: Mamma, ek wil huis toe kom.”
Nooddienste het Hendrikus eers na die hospitaal in Carrington geneem, waarna hy per mediese helikopter na Fargo oorgeplaas is, waar sy hand geopereer is.
“Die dokters het wonderwerke met sy hand verrig. As hierdie ongeluk in Suid-Afrika gebeur het, glo ek hulle sou waarskynlik sy hele hand afgesit het. Daar was niks vleis meer nie; jy kon alles binne-in sy hand sien.”
Hoewel dokters aanvanklik gesê het hy sal waarskynlik nooit weer behoorlike funksie in sy hand hê nie, bly die familie hoopvol. “Hy kan sy vingers se stompies effens beweeg, maar om sy hand toe te maak is iets heeltemal anders.”
Beweging
“Hy het nog penne in sy hand wat alles bymekaar hou. Eers wanneer dit in Augustus uitgehaal word, sal ons regtig weet hoeveel beweging daar gaan wees.”
Tot verbasing van sy familie het Hendrikus kort nadat hy ontslaan is, reeds besluit om terug te keer werk toe. “Hy wil nie by die huis sit nie.”

“Die mense daar ondersteun hom ongelooflik. Ek het nou die dag op ’n video-oproep gesien hoe hy met net sy linkerhand aan ’n enjin werk. Hy sê: “Sjoe, dit is ’n aanpassing om alles met die linkerhand te leer doen.”
Sy werkgewer het hom intussen die keuse gegee om óf na Suid-Afrika terug te keer óf aan te hou werk op die plaas, waar hy tans ligter pligte verrig.
Die finansiële las bly egter enorm. Hendrikus se mediese rekeninge beloop reeds sowat $80 000, meer as R1,3 miljoen, wat die ambulans, mediese helikopter en behandeling by twee hospitale insluit.
Die familie hoop die Amerikaanse hospitale sal ’n gedeelte van die skuld afskryf, maar daar wag steeds fisioterapie en nog behandeling. “Hy het nie persoonlike mediese versekering gehad nie, omdat dit eenvoudig te duur was.”

Hendrikus Boshoff word beskryf as ’n liefdevolle persoon. Foto verskaf
Ten spyte van alles sê Erika haar seun se positiewe geaardheid help hom om aan te hou. “Hy is soos ’n magneet. Hy stap enige plek in en mense is net lief vir hom. Hy het so ’n mooi persoonlikheid.”
Sy hoop ander sal uit hul pynlike ervaring leer. “Bly weg van vuurwerke af. Dit is nie Suid-Afrikaanse klappertjies nie. As ’n mens die statistieke in Amerika lees oor hoeveel mense elke jaar beseer word en ledemate verloor, besef jy hoe gevaarlik dit regtig is.”
Gebede
’n Geldinsameling is begin om Hendrikus se mediese uitgawes te help dek terwyl hy aanhou veg om soveel moontlik gebruik van sy hand terug te kry.
“Ons bid elke dag dat daar weer werking in sy hand sal wees. Ek glo die almagtige God gaan my kind nie los nie.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

