Central SA
Landboudal rou oor man wat ‘hartklop en siel’ van skool was─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:58 Wed, 22 Jul 2026
“’n Groot verlies. Een van die beste onderwysers. ’n Mentor, vriend en inspirasie.”
Só beskryf honderde oudleerders, ouers, kollegas en vriende vir Worsman van der Ryst (36), nadat die nuus van sy dood Dinsdag (21/7) bekend geword het. Die Hoër Landbouskool Jacobsdal en die breër onderwysgemeenskap het ’n besonderse mens verloor, sê die skoolhoof, Eduard Potgieter.
Volgens berigte het Van der Ryst, wie se volle naam Jan Louis van der Ryst was, na bewering Maandag (20/7) sy eie lewe geneem.

Worsman is byna ’n week ná sy verjaardag oorlede. Foto verskaf
Van der Ryst, wat op 14 Julie sy verjaardag gevier het, was 13 jaar lank aan die skool verbonde, waar hy as woordvoerder, Afrikaans-huistaal- en dramaonderwyser, asook koshuisvader diens gedoen het. Die skool beskryf hom as veel meer as net ’n opvoeder – ’n man wat nie net die titel onderwyser, bemarker en koshuisvader gedra het nie, maar wat die hartklop en siel van Landboudal was.
“Hy het oral waar hy gegaan het energie, kleur en ’n onblusbare geesdrif agtergelaat, en die rooi sand van Jacobsdal as die verhoog vir sy lewensroeping gekies. As koshuisvader was hy ’n standvastige anker en vir honderde seuns ’n veilige hawe.
“Hy was die dryfkrag agter jare lange koshuistradisies, het vertroos waar daar verlange was en dissipline met ’n regverdige en liefdevolle hand toegepas,” sê Potgieter.
Sy broer, die sanger Willem van der Ryst, beskryf hom as iemand wie se afwesigheid vir altyd gevoel sal word. “Daar is mense wat ’n vertrek vul wanneer hulle instap, en daar is mense wat ’n leemte los wat nooit weer gevul kan word wanneer hulle weg is nie.
“Jy was daardie mens, Worsman.”
Hy sê sy broer was “’n ware mense-mens”, wat altyd tyd gehad het vir “’n geselsie, ’n lag, ’n lied of ’n helpende hand”.
‘Jou lied het nie geëindig nie’
“Ek wens jy kon net vir een oomblik sien hoeveel mense se lewens jy aangeraak het, en hoe ongelooflik geliefd jy werklik was. Ek dink nie jy het ooit ten volle besef hoeveel jy vir ons almal beteken het nie.
“Rus sag, my boetie. Jou lied het nie geëindig nie – dit leef voort in elkeen van ons wat die voorreg gehad het om jou lief te hê. Tot ons weer ontmoet.”
Geen begrafnisreëlings is nog bekend nie.

Worsman van der Ryst was ’n geliefde onderwyser. Foto verskaf
Enigiemand wat met geestesgesondheidskwessies sukkel, kan die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) se 24-uur-geestesgesondheidshulplyn by 0800 456 789 skakel. Sadag se WhatsApp-beradingslyn is beskikbaar tussen 09:00 en 16:00 by 076 882 2775.
Kontak ook die Suid-Afrikaanse Federasie vir Geestesgesondheid by 011 781 1852 of LifeLine South Africa by 0861 322 322.
OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427

