Central SA
Van Zylsrus se kunsteweek op die rooi duine beloof ’n propvol program─── SUSAN MARÉ 14:48 Fri, 24 Jul 2026
Ná die sukses van Van Zylsrus se eerste kunsteweek is die tweede aflewering van 29 September tot 1 Oktober op die Kalahari se rooi duine in volle beplanning.
Van Zylsrus was die afgelope twee jaar wêreldwyd in die nuus toe die grootste mensgemaakte geoglief in Afrika wat ’n aasvoël uitbeeld, by die dorp deur Bridge Co-Creators voltooi is. Die ontwerp en die pak van die geoglief het ’n week voor verlede week se kunsteweek begin en was deel van verrigtinge.
Van Zylsrus is in ’n aasvoëlbewaringsgebied geleë en die geoglief beloof om kreatiewe ekonomie en toerisme in die omgewing te bevorder.
Anni Snyman, Petro Jonker en PC Janse van Rensburg wat by die ontwerp en voltooiing van die aasvoëlgeoglief betrokke was. Foto verskaf
Pieter Pienaar van Bridge Co-Creators, kunstenaar, skilder en skrywer, speel ’n leidende en kreatiewe rol om kunste in die Noord-Kaap op te hef.
By vanjaar se kunsteweek op Van Zylsrus is daar drie kernaspekte wat ’n groot rol gaan speel, sê hy.

Pieter Pienaar en Carol Preston van Bridge Co-Creators. Foto verskaf
“Gratis kunsklasse vir die kinders by ’n gemeenskapsaal, die betaalde kunsklasse vir volwassenes by die NG kerksaal en die letterkunde- en storievertelaktiwiteite by die El Shaddai-gemeente is vol belofte.
“Bridge Co-Creators organiseer nie hierdie kunsteweke vir winsbejag nie maar poog om ’n kunstebewustheid in die Noord-Kaap te stimuleer deur aan deelnemers praktiese en doenbare geleenthede te bied.”

Gratis kunsklasse vir die jeug in die gemeenskapsaal. Foto verskaf
“So kan iemand byvoorbeeld die eerste keer ’n houtskoolskets maak. ’n Kunsteweek in die Noord-Kaap beteken dat mense van heinde en ver kom om deel te neem. Brandstof is duur, ja, en daarom probeer ons om klasloopfooie billik te hou.
“Die kunsteweek is natuurlik ook ’n wonderlike geleentheid vir instansies of individue wat die waarde van die kreatiewe ekonomie, kuns en toerisme in die Kalahari-streek besef om na vore te tree as borge.”
Izak Vollgraaff, professionele illustreerder en skilder, bied houtskoollesse aan. Foto verskaf
“Waar ander tradisionele Suid-Afrikaanse kunstefeeste geleenthede skep vir vlooimarkte en uitstallings vir verkope, is die kunsteweek op Van Zylsrus ’n samekoms van kunstenaars, skrywers, digters, musikante en tyd om mekaar se talente te geniet.
“Om saam kuns uit te leef bied geleentheid vir inspirasie. Die klem val op die wonder van skep en om saam kreatief te wees vir inspirasie. Daar sal wel geleentheid en ruimte wees vir uitstallers buite die onderskeie kerksale.”
Die NG kerk se orrel is verlede jaar herstel en Bridge Co-Creators sal wat wil gee om een of meer orreliste daar te kry vir ’n orreluitvoering. Musikante en orkeste is ook welkom om hul talente te kom deel.
Pienaar sê kunstenaars in alle genres is welkom en kry ’n gratis platform: “Hier kan hulle vriende maak met ander kunssinniges en kunsteliefhebbers. Ons beplan ook om ’n deurlopende uitstalling soos ’n “pop-up”-galery op te rig waar deelnemers, aanbieders en alle belangstellendes se werk vertoon kan word.”
Van Zylsrus se kunsteweek is in 2025 deur kunsteliefhebbers van oor Suid-Afrika heen bygewoon. Daar was selfs besoekers van oorsee.
Die Universiteit van die Vrystaat het vir vanjaar se kunsteweek spesiaal ’n dosent van die departement beeldende kunste afgevaardig om deelnemers te inspireer wat in fotografie belangstel.
‘n Boekuitstalling op die 2025 Kunsteweek op Van Zylsrus. Foto verskaf
Een van die multimedia-aanbieders kom van Botswana en gaan op die duin wat oor die aasvoëlglief uitkyk ’n buitelig “groet die son”-gebeurtenis lei. Dit kan gratis teen skemertyd op 29 September bygewoon word.
“As jy van die natuur hou en die Kalahari-son statig wil sien sak en die oomblik saam met ander wil koester, moet jy net jou waterbottel, eetgoedjies en flits inpak,” sê Pienaar.
Registrasievorms vir deelnemers sal in die middel van Augustus beskikbaar gestel word en alle inligting oor kunsklasse en –aktiwiteite bekendstel.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

